Oasis hulpgroep bied ondersteuning
THABAZIMBI – Voel jy soms of alles net te veel vir jou geword het, hetsy as gevolg van jou persoonlike afhanklikheid van een of ander middel of die afhanklikheid van ‘n familielid? Of dalk wil jy net graag weet of daar ‘n verskil is tussen alkoholafhanklikheid en alkoholmisbruik. Sluit dan gerus aan by die Oasis hulpgroep wat Donderdae aande om 18:30 by die NG Kerk Tahbazimbi bymekaarkom. Die Oasis hulpgroep het ten doel om ‘n ondersteuningsdiens te lewer aan die substansafhanklike, sy/haar werkgewer, gesin en die gemeenskap deur die aanbied van gereelde byeenkomste, ontwikkelingsgeleenthede, voorkomingsdienste en persoonlike uitreiking. Die groep werk vanuit die oogpunt van die Christelike Afhanklikheidsdiens. In samewerking met alle Christelike kerke en die SAVF streef die diens daarna om die afhanklike en sy/haar gesin te begelei tot ‘n lewe van oorwinning en lewensvreugde, om gesinsbande te herstel en om mylpale te erken op die oorwinningspad van die afhanklike. Byeenkomste bestaan nie uit formele lesings nie. Inligting word gedeel en gemeet teen die teorie en ander persone se ervarings. Sprekers word ook genooi om die groep oor bepaalde aspekte toe te spreek. Met ‘n leuse van “een dag op ‘n slag” bied die groep persoonlike en telefoniese ondersteuning om diegene in nood te begelei tot blywende soberheid en lewensvreugde. Word deel van hierdie opregte vriendekring en Christelike kameraderie. Die diens word gratis aangebied en anonimiteit word gewaarborg. Vir meer inligint kontak Linda by 014 7771093 of Stoney by 082 611 6694. Die program vir September lyk as volg, die 6de word ‘n besprekingsaand gehou, 13de is die spreker Rene Swanepoel en haar toespraak handel oor die huwelik, die 20e is daar ‘n maatskaplike werker wat ‘n aanbieding lewer en op die 27ste hou ds Benade ‘n toespraak met ‘n Christelike tema naamlik Noag se dronkenskap.