Oud Ingenieur sterf na kort siekbed
PRETORIA – ‘n Oud-inwoner en voormalige werknemer by Kumba, mnr Ben Vorster (63), is oorlede na ‘n kort siekbed. Ben is verlede Woensdag in die Bougainville hospitaal in Pretoria opgeneem met algehele nierversaking. Na ‘n aanvanklike opflikkering, het sy toestand bly verswak en op Sondag 29 Julie is hy oorlede. Ben is gedurende 1993 as resident ingenieur op Kumba Thabazimbi aangestel. ‘n Posisie wat hy vir sowat 8 jaar beklee het. Gedurende sy tyd is daar ook met mynbedrywighede by Buffelshoek-Oos begin. Ben het hoofsaaklik in Schweiser- Reneke grootgeword. Na skool het hy hom aan die Universiteit van Pretoria as Elektriese ingenieur gekwalifiseer. Terwyl hy vir Yskor gewerk het, het sy werk hom regoor die wêreld geneem en het hy en sy gesin selfs ‘n draai in Japan gemaak. Sy eerste aanstelling was by Pretoria werke 1970 daarna na Sishen, Durnacol in Natal en Thabazimbi gevolg. Nadat hy van Kumba af weg is, het hy vir sowat ‘n jaar en ‘n half in Tajikistan (Rusland) gaan werk. Hier het hy en sy vrou, Gertrude, die ondervinding van ‘n leeftyd gehad in die sub-zero temperature waarin mynbedrywighede moes plaasvind. Sy laaste konsultantwerk was gemoeid met die konstruksie van die Empangeni smelter. Met hul terugkeer hiervanaf het die egpaar in hul huis in Pretoria gaan aftree waar Ben hom steeds met allerhande elektroniese toerusting wat hy vervaardig het, besig gehou het. Die oop ruimtes het hom altyd getrek en ‘n vakansie was niks tensy daar ‘n viertrekvoertuig en verkieslik ‘n rubberboot by betrokke was nie. Hy was juis van plan om binne die nabye toekoms een van sy ou viertrekvoertuie te herbou. Ben word oorleef deur sy vrou, Gertrude, sy kinders, Ben en Bibi, Rudolf en Tanya en Annabelle en Willie (Nöthnagel), asook vier kleinkinders.