Winter water-loslating
THABAZIMBI – Die Krokodilrivier-wes Besproeiingsraad het pas hul winter en vroeë somer water-loslating vir 2007 bekend gemaak. Op Saterdag 30 Junie word die damme toegemaak. Hierna mag van sandpunte en boorgatwater gebruik gemaak word. Dit is die sogenaamde koring strestyd. Vrydag 20 Julie word die damme weer oopgemaak – alle besproeiing uit die rivier sowel as boorgate moet gestaak word. Dit is om die water in die rivier ‘n kans te gee om te vorder en kontrole te vergemaklik. Op Dinsdag 24 Julie mag weer besproei word of sodra water by Elandskuildrif is. Op Maandag 10 September mag daar begin word met besproeiing van vroeë mielies of ander somergewasse, na verseker is en daar water beskikbaar is (‘n vergadering sal belê word) op die ander 50% van die inlysting. Hierdie beraming is na die beste van die Raad se wete, maar geen waarborg kan gegee word dat daar wel genoeg water sal wees om die koringoes deur te sien nie. Die hele beplanning se sukses is gebaseer op 100% samewerking van alle besproeiers. Die Raad beraam dat die water teen 30 November klaar gaan wees. Die Raad is besig om met die Departement van Waterwese en Bosbou te onderhandel vir addisionele water.