General

Betroubare elektrisiteit oppad

Die Beeld het die afgelope week berig oor nuwe betroubare elektrisiteit wat binnekort die lig gaan sien. ‘n Multi-miljoenrand projek vir die verskaffing van 400 kommersiële brandstofsel-stelsels vir elektrisiteitslewering in Suid-Afrika, is aan IST Holdings toegeken.
Sake-ondernemings en kragverbruikers in stede en veral afgeleë gebiede in Suid-Afrika, wat gebuk gaan onder gereelde kragonderbrekings, gaan die grootste wenners wees danksy die toekenning van die kontrak deur International Finance Corporation (IFC).
Die projek van $14 miljoen (R85 miljoen) verteenwoordig die grootste getal kommersiële brandstofsel-stelsels wat tot dusver in ‘n ontwikkelende land geïnstalleer is. Die hoofdoel met dié brandstofselle is om ‘n betroubare bron van elektrisiteit te bied.
IST Holdings sal verantwoordelik wees vir die invoer, verspreiding, installering en onderhoud van die brandstofsel- stelsels. IST, wat in 2004 van die JSE gedenoteer is, bied gediversifiseerde ingenieurstegnologie-oplossings vir kapitaalintensiewe ondernemings.
Me Prithinee Naidoo, korporatiewe direkteur van IST, sê die toekenning stel IST in staat om ‘n mededingende prysstruktuur saam te stel vir nuwe toonaangewende tegnologie.
Plug Power, ‘n Amerikaanse firma wat gemoeid is met skoon en betroubare energieprodukte, sal verantwoordelik wees vir die vervaardiging van die 5 kW-brandstofselle.
Die brandstofsel-installasies sal die vermoë hê om 2 MW elektrisiteit op te wek, wat gelykstaande is aan die kragverbruik van 1 300 huishoudings.
‘n Brandstofsel is ‘n elektrochemiese energie-omskakelingstoestel wat die eienskappe van batterye en kragopwekkers kombineer. Soos ‘n battery verskaf ‘n brandstofsel gelykstroomkrag en soos ‘n kragopwekker sal ‘n brandstofsel werk solank daar brandstof is.
Die bykomende voordeel van brandstofselle is dat hulle ligter is en minder geraas maak. Die stelsel wat nou in Suid-Afrika gebruik gaan word, is die GenCore 5 kW. Wanneer suiwer waterstof in die proses gebruik word, is die enigste byproduk skoon water, sê Naidoo.
Sy sê die brandstofselle gaan aanvanklik slegs gebruik word as plaasvervanging wanneer daar kragonderbrekings is. ‘n Nuwe model wat LPG gebruik, sal later vanjaar beskikbaar gestel word, wat ‘n meer permanente oplossing sal bied.
Onder die nywerhede en ondernemings wat geteiken word, is telekommunikasie- en selfoonnetwerke, gesondheid (hospitale), banke, universiteite, munisipaliteite, kragsubstasies en data-instellings. Die eerste stelsel in Suid-Afrika is aan die Vaal Universiteit van Tegnologie verkoop.
Kragonderbrekings het die laaste jare toegeneem, en Eskom het toegegee dat hy teen volgende jaar nie genoeg krag sal kan opwek om in die vraag te voorsien nie. Die reserwegrens van kragopwekking het van naastenby 17% in 2003 verminder tot 8,5% in 2004.
Eskom sal oor die volgende vyf jaar nagenoeg R90 miljard se kapitaalinvestering doen. Die brandstofsel-projek gaan oor die volgende drie jaar ingestel word. Die IFC se me Rachel Kyte sê hulle is daartoe verbind om volhoubare energie-oplossings aan ontluikende markte te voorsien.
” Die projek sal nie net ‘n skoon energiebron in Suid- Afrika voorsien nie, maar dit sal ook betroubare energie in afgeleë gebiede in die land verskaf.”