Sport

HFM rugby naaswenners in Beeldtrofee

THABAZIMBI – Hoërskool Frikkie Meyer se eerste rugbyspan het verlede Saterdag in ‘n titaniese stryd teen Hoërskool Overkruin, Pretoria te staan gekom in die eindrondte van die Beeldtrofee vir medium skole.
Gerugte het die rondte gedoen dat Overkruin hiérdie wedstryd baie maklik sou wen, maar die brokkie inligting is van die Frikkies weerhou. Daar is egter nie met die taai bosveldseuns rekening gehou nie.
Vandat die wedstryd begin het, het Frikkie Meyer lynstaanballe by Overkruin gesteel en ander kere hul besit omvergegooi. Met rustyd loop Overkruin 8-3 voor ná ‘n duikslag deur ‘n Overkruiner.
Kort na die tweede helfte slaag Overkruin se voorspelers daarin om deur Frikkie Meyer se lynstaan te bars en druk hul tweede drie. Frikkie Meyer volg kort hierna met ‘n drie wat die wedstryd in ‘n naelbyt skouspel verander.
Die wedstryd is enduit teen ‘n geweldige tempo gespeel en alhoewel Overkruin aan die begin gevaarlik gelyk het, kon hulle nie die vooraf voorspellings (om die wedstryd maklik te wen) handhaaf nie.
Met slegs drie punte verskil in die telling, kon Frikkie Meyer nie daarin slaag om Overkruin te klop nie en Overkruin wen die Beeldtrofee met ‘n eindtelling van 13-10. Frikkie Meyer is die naaswenners en ontvang ‘n silwer medalje.
Die eerste rugbyspan en hul afrigters het Hoërskool Frikkie Meyer, hul ouers en al hul ondersteuners hartlik bedank vir hul ondersteuning in die afgelope rugbyseisoen.