Entertainment

Dis weer Carnavals-tyd

LEEUPOORT – Die Springbokken Carnavalsvereniging, wat twee jaar gelede saam met ons by Blinkwater Lodge gekuier het, maak hierdie jaar weer so en daar gaan op 3 September lekker by Leeukrans by Leeupoort vakansiedorp gekuier word.
Almal wat die vorige kuier bygewoon het sal die lekker eg Hollandse ete en die uitstekende vermaak van die aand onthou. Die Carnavalsgroep bied na die ete ‘n uitstekende verskeidenheidskonsert wat uit koorsang, voordragte, sketse en samesang bestaan. Gedurende Maart het hulle ‘n wêreldbyeenkoms van Carnavalsverenigings in Duitsland bygewoon en het so pas van ‘n uitgebreide toer deur Namibië en die Wes-Kaap teruggekeer.
Die Carnavalsverenigings dateer uit die twaalfde eeu toe daar reeds in geskrifte na die “Carnis priviun” en “fasnacht” waarop die Hollandse Carnaval gebasseer is, verwys is. In Suid-Afrika het die Springbokken Carnavalsvereniging 50 jaar gelede tot stand gekom en is gestig deur Hollandse immigrante wat hulle in Suid-Afrika kom vestig het. Dit maak hulle ook die oudste Carnavalsgroep in die buiteland.
Elke Carnavalsgroep stel tydens die Prinsebal om elfuur op die elfde van die elfde maand hul nuwe Prins en Prinses vir die volgende jaar aan die publiek bekend. Hierdie jaar het ons te doen met Prins Albert II en Prinses Helena.
Die gaste word ook deeglik betrek en met tye kan dit maar redelik lawaaierig gaan as almal saam begin voetestamp en tekere gaan. Kom beleef dit gerus.
Vanjaar het hulle ‘n tema-aand naamlik die “Rocking Fifties”. Mens kan lekker opskopmusiek hiermee saam verwag en die gaste word ook uitgenooi om volgens die tema aan te trek. Spotpryse vir die besgeklede paartjies volgens die tema sal ook toegeken word. Na afloop van die konsert kan daar lekker gedans word.
Die ete word vanaf 18:30 bedien en daarna begin die vermaak in alle erns. Kaartjies kos R80 per persoon en sluit die heerlike ete en al die vermaak in. ‘n Kontantkroeg sal ook beskikbaar wees.
Kaartjies is beskikbaar by Albert by 082 452 4520 of by Esther by Leeukrans 082 787 7570.