General

Laerskool “Gee Om”

THABAZIMBI – Laerskool Thabazimbi het weereens ‘n groot besending basiese middele en gebruiksgoedere weggestuur na die Abraham Kriel Kinderhuis op Nylstroom as deel van die “Ons gee om” projek.
Met hierdie projek hoop hulle om die kinders se lewens effens makliker te maak en dit vir die kinderhuis moontlik te maak om die beste moontlike versorging aan die kinders te gee wat aan hulle toevertrou is.
Elke graad van die skool het ruim bygedra en die skool is baie trots op die ouers se positiewe gesindheid en bydraes wat ontvang is. Die Gr R klasse het lyf- en handeroom gegee, die Gr 1’s het sjampoo gegee, die Gr 2’s snesies, Gr 3’s tandepasta en toiletseep, Gr 4’s weggooibare skeermesse, Gr 5’s geblikte bone en -vis, Gr 6’se spaghetti en macaroni en die Gr 7’s konfyt of enige broodsmere.
Die Gr 7 klasse het in die lewensoriënteringsperiode spesiale aandag gegee aan verhoudinge tussen mense, om uit te reik na mense in nood en hulle het ekstra moeite gedoen om voorrade in te samel.
Alf en Mara Wilsenach het sakke vol lemoene, pampoene en suikerbone geskenk. Baie te klein klere is ook ingesamel. Persone wat nog ‘n bydrae wil maak, kan ‘n direkte inbetaling doen in die rekening van AKK Nylstroom, Absa takkode: 334 347, rekeningnommer: 1100 140 000. Die inbetaalstrokie kan deurgefaks word na Gezina Lombaard by (014) 717 5264/5.
Verdere skenkings kan by die kantore van Laerskool Thabazimbi ingehandig word. Dié skool hou twee keer per jaar so ‘n insamelingsprojek en die volgende een is in Oktober 2005. Alle goedere word goedgunstig deur Hannes Coetzee van Thaba Spar na Nylstroom vervoer.
Hanti Vorster, koördineerder van die projek sê dat die sukses van hierdie projek toegeskryf word aan die ouers en “omgee” gemeenskap waarop daar weereens staatgemaak kon word.