HFM naelbyt rugby
THABAZIMBI – HFM se eerste rugbyspan het die afgelope Saterdag teen Volkskool, Potchefstroom te staan gekom in die eindstryd as die Noord Wes kampioene. Ten aanskoue van al die toeskouers is die span die arena in gelei deur Harley Davidson’s ondersteuners.
Toeskouers was deurentyd op hul voete en die kele was hard aan die werk. Ma’s het hul koppe vasgegryp en pa’s het op en af langs die veld getrippel. In die eerste helfde gee HFM vir Volkskool opdraende, maar Volkskool veg terug en die tweede helfde draai in die Potchefstromers se guns met ‘n eindtelling van 24-19.
HFM kom eerskomende Saterdag teen Hoërskool Jan Viljoen op Randfontein se veld te staan in die kwalifiserende rondte van die Beeld trofee as naaswenners van die Noord Wes Provinsie. Die organiseerders en afrigters het hul dank teenoor die gemeenskap uitgespreek wat die span Saterdag ondersteun het.
(Toeskouers se kele is toe wél goed opgewarm aangesien die Springbokke later die middag daarin geslaag het om ‘n paar drieë te druk en op die koop toe die Madiba beker te wen.)