Droogte oor jare eis sy tol

Sekere gebiede in Limpopo is besig om in ramp toestande in te beweeg as gevolg van die huidige droogte. Volgens TLU-SA Noordstreek is die huidige droogte die gevolg van sub-normale reënval die afgelope vier jaar.
Die streek het gemiddeld 50% minder reën, oor die langtermyn bepaal, gehad. Die droogte het nie in een jaar ontstaan nie en gaan ook nie in een jaar opgehef word nie. Volgens TLU-SA bring die droogtehulp wat aan boere (kommersieël en kommunaal) beskikbaar gestel word, verligting. Boere ontvang slegs bystand vir 30 GVE (Grootvee eenhede). Dit is wel so dat 200 GVE benodig word om ekonomies volhoubaar te boer en meer ondersteuning word dus dringend benodig. 30 GVE is die maatstaf vir kommunale boere en kan nie net so op kommersiële boere van toepassing gemaak word nie.
Volgens die Departement van Landbou in Ellisras, lê die groot krisis nog voor. Die verteenwoordiger het gesê dat die bome se blare nou begin afval en dat Augustus en September die jaar die kritiese tye gaan wees. Hy het gesê as dit nie vroeg reën nie, die droogte in ‘n groot krisis gaan ontaard.
Volgens die departement het 264 boere aansoek gedoen vir droogtehulp en nog ‘n klomp aansoeke moet verwerk word. Daar is reeds 24.8% van die aansoeke reeds afgekeur. Die ooste van Ellisras ondervind baie groter droogte probleme. Springbokvlakte ondervind byvoorbeeld groter probleme as Sterkwater.
Volgens Joggie van Bruggen, DLU voorsitter, Thabazimbi, ondervind die Thabazimbi omgewing nie soveel probleme nie alhoewel sommige boere wel aansoek gedoen het vir die droogtehulpprogram. Volgens van Bruggen ondervind die Dwaalboom gebied wel droogte. Alle boere word versoek om die nodige droogtehulpaansoekvorms by die DLU kantoor af te haal.
Daar bestaan kommer by landbou unies aangesien wildboere by die droogtehulpskema uitgesluit is en die regering is versoek om dringend die toedrag van sake te heroorweeg.