Gholfnuus
THABAZIMBI – Die “Foursomes” kampioenskap wat verlede Saterdag gespeel is was vir verskeie jare nie op die program nie. Dit is dan ook die eerste keer, sover onthou kan word dat dit deur twee dames gewen word. Marina van der Wateren en Alta Venter is die kampioene met ‘n telling van 50 punte. Tweede met 49 punte was Daan Lotheringen en Piet Venter. R Visser en A Voges, ook met 49 punte was derde.
Die nuwe braaiplek is ook Saterdagaand vir die eerste keer gebruik. Die nuwe braaiplek en die aansig van die klubhuis is daar gestel deur die ywer en dryfkrag van dr Willem du Plessis. Hy het persoonlik baie van die werk self gedoen.
Gholf is in baie opsigte ‘n unieke spel en wat deur eiesoortige mense gespeel word. Daar is, afgesien van die streng stel reëls ook talle geskrewe en ongeskrewe etiket-reëls. Al die gholfklubs het hul eie kleredrag-reëls. Die komitee en lojale lede verwag ook dat almal by ons kleredrag voorskrifte hou. Vir mans en seuns word net hemde met krae en moue op die baan en in die klubhuis toegelaat. Hemde moet ten alle tye in die broek gesteek wees. Lang-en kortbroeke moet ‘n gulp hê en die sakkerige driekwart slenterbroeke hoort nie op enige gholfbaan nie. Lang kouse of sportsokkies wat oor die enkels strek word toegelaat. Al ons plaaslike reëls is by die inskrywingsboek te sien.
Juliemaand se program lyk soos volg:
2 Julie: Speel die Kaptein teen die Voorsitter. Hulle gaan hulle manne uitsoek uit die name op inskrywingslys.
9 Julie: Maandeliks Slagspel.
14 Julie: Sages hier op ons baan. Manne van 55 jaar en ouer wat nog nie lid is nie is welkom om met die keur van gholfspelers te kom skouers skuur.
16 Julie: Eerste Nasionale Bank bied hulle borgdag aan.
23 Julie: Die dames van Limpopo speel hulle geslote kampioenskap op ons baan. Dis vir ons klub ‘n groot eer om die toernooi aan te bied. Die baan sal ongelukkig vir alle ander spel gesluit wees.
29 Julie: Interaksie Gholf. Die kompetisie was aanvanklik ‘n Yskor kompetisie. Verlede maand was daar net ‘n enkele Kumba verteenwoordiger.
30 Julie: Borgdag deur die Gereformeerde Kerk. Baie wildspryse om te wen.
31 Julie: Bosveldliga op Lost City.