General

Sakekamer publieke vergadering lewer swak opkoms

Lizanda Jacobs

THABAZIMBI – Die Sakekamer se publieke vergadering wat Woensdagaand plaasgevind het om tekortkominge in die Munisipaliteit aan te spreek, het ‘n swak opkoms gelewer met slegs sestig inwoners teenwoordig.
Die vergadering wat 18:00 moes begin, het uiteindelik eers om 18:30 afgeskop aangesien daar vir nog inwoners gewag is. Wynand Bezuidenhout het in sy toespraak gesê dat buiten die kennisgewing in Die Kwêvoël, daar oor die 10 000 pamflette in die dorp versprei is.
Die Sakekamer is bekommerd oor die algemene apatiese houding van die inwoners van Thabazimbi wat nie by hierdie probleme betrokke wil raak nie, of andersins wag om te sien wat die mede publiek uitgerig kry.
Hulle meen almal het een of ander probleem met die Munisipaliteit, maar is nie bereid om in ‘n openbare vergadering hul mening te lig nie. Bezuidenhout het bygevoeg dat as ons nie as Thabazimbi inwoners gaan saamstaan nie, die probleem oplossing net langer en groter gaan word.
Alle tekortkominge in die plaaslike Munisipaliteit is aangespreek wat die water-, vullisverwydering-, netheid van ons dorp- en dorpsontwikkeling aspekte ingesluit het. Daar is veral klem gelê op die wanbestuur van die Munisipaliteit.
Mervin Milner het in sy toespraak gesê dat die Munisipaliteit slegs ses maande na die politieke oorname reeds bankrot was. Hy het veral berigte wat die afgelope tyd in die Rapport verskyn het aangehaal en gesê dit wil voorkom asof die Munisipaliteite in Suid-Afrika meeding om te kyk wie doen die vrotste.
Hy het bygevoeg dat geld wanbestee word op luukses in ons plaaslike Munisipaliteit, maar dat daar nie geld is om onder andere die water probleem op te los nie. Hy het ook bygevoeg dat daar huidiglik R27 miljoen se uitstaande debiteure in ‘n dorpie soos Thabazimbi is, wat totaal onaanvaarbaar is.
Bezuidenhout het in sy afsluitings toespraak gesê dat die Sakekamer as spreekbuis vir die publiek optree en dat hulle nie net daar is vir besighede nie, maar dat hulle deure oopstaan vir almal.
Daar sal in Februarie 2005 weer ‘n publieke vergadering gehou word, en Northam se Sakekamer het reeds laat weet dat hulle by Thabazimbi gaan aansluit. Rooiberg en Leeupoort het ook van hulle laat hoor en die sakekamer hoop dat Februarie se vergadering baie beter verteenwoordig sal word en elke inwoner sal opstaan en veg vir sy regte.