NUWE VISEKANSELIER SAL SUKSES VAN SAMESMELTING VERSEKER
Noordwes-Universiteit het vandag die pas aangegee deur die eerste van die saamgesmelte universiteite te word wat sy eerste permanente visekanselier aangewys het. Die aanstelling is gemaak tydens ‘n vergadering van die Universiteit se Raad in Potchefstroom. Dr. Theuns Eloff, wat ‘n gedugte rekord het vir sy rol in transformasie in Suid-Afrika, is aangewys as die eerste visekanselier van die nuwe Noordwes-Universiteit.
Die proses om die visekanselier aan te wys, het op 12 Maart 2004 begin toe die Raad besluit het om die deursigtige en openbare roete te volg. ‘n Soekkomitee bestaande uit ses raadslede, verteenwoordigend van die verskillende belangegroepe is aangewys wat op hul beurt die soekfirma, Leaders Unlimited – Korn/Ferry International aangestel het om die komitee by te staan. Nadat ooreenstemming rakende die posprofiel bereik is, het die komitee ‘n proses van eksterne advertering op 4 en 8 April begin. ‘n Uitnodiging vir nominasies vanaf alle belangegroepe en geaffillieerdes van die Universiteit is gerig.
Met die doeldatum van 19 April is 24 aansoeke ontvang en drie kandidate is genomineer waarvan een ook ‘n aansoeker was. Leaders Unlimited het hierna tien kandidate deur ‘n proses van vooraftoetsing teen die minimum vereistes soos in die posprofiel uiteengesit, geïdentifiseer.
Die Institusionele Forum (IF) het volgens statutêre voorskrifte sekere aanbevelings rakende die seleksie van kandidate aan die Raad gemaak. Die Raad het op 12 Maart besluit om ook die Senaat te versoek om aanbevelings te maak. Die IF en Senaat het op 26 April hul aanbevelings aan die soekkomitee deurgegee.
Die soekkomitee het op 28 April ‘n lys van agt kandidate gefinaliseer wat genooi is om leierskapsgedragstoetsing te ondergaan. Dit het bepaal of hulle aan die minimum bestuursbevoegdheidsvlakke voldoen sodat ‘n kortlys van vyf kandidate vir onderhoude saamgestel kon word. Die onderhoudpaneel het uit lede van die soekkomitee, bygestaan deur prof. M.W. Makgoba en prof. D. Ncayiyana as eweknie evalueerders en Leaders Unlimited bestaan. Deeglike verwysingsondersoeke is uitgevoer.
“Op aanbeveling van die soekkomitee en na deeglike beraadslaging het die Raad besluit om dr. Theuns Eloff as eerste visekanselier van die Noordwes-Universiteit aan te stel,” het mnr. Litha Nyhonyha, voorsitter van die Raad, gesê.
“Met die aanstelling van dr. Eloff is die momentum van die samesmelting merkbaar verstewig. Hy verleen noodsaaklike kontinuïteit aan die proses. Dit is baie belangrik dat almal deel het daaraan om die Universiteit doeltreffend te laat funksioneer. Die oorhoofse doelwit is om die Noordwes-Universiteit ‘n unieke en suksesvolle Suid-Afrikaanse universiteit, gewortel in Afrika, en kompeterend in die wêreld te maak.”