Maak potte bymekaar vir die Wildspotjiekoskompetisie
THABAZIMBI – Voornemende deelnemers aan vanjaar se Wildspotjiekoskompetisie wat tydens die Thabazimbi Expo aangebied word, kan maar solank die gietysterpotte afstof en gereed maak vir ‘n baie lekker dag van saam kook.
Lochner de Kock en Jan Adriaan Swanepoel gaan vanjaar as beoordelaars optree. Dit beloof om sommer baie lekker te wees, want as daar nou een mens is wat lieries oor kosmaak kan raak dan is dit Lochner. Jan Adriaan is ‘n jagter van formaat en hy weet presies hoe om die beste uit ‘n pot te haal. Deelnemers sal beslis hierdie twee manne se raad en kwinkslae oor die potjies geniet.
Die kompetisie word Saterdag 1 Mei op die gewone plek op die feesterrein aangebied en begin om 08:00 die oggend. Beoordeling sal vanaf 12:00 wees en die finale prysoorhandiging in die omgewing van 15:00.
Vanjaar se eersteprys wenners sal, buiten die normale koopbewyse wat deur Shoprite geborg word, ook ‘n selfversorgende naweek by die eksklusiewe BJF Game Ranch tussen Koedoeskop en Leeupoort wen.
Pryse word toegeken aan die eerste drie plekke, die beste voorgereg/bykosse en die beste nagereg. Stalletjies word nie eintlik beoordeel nie, maar die aanbieding kan ‘n rol speel as twee spanne se punte gelykop is. Die rede dat daar nie stalletjies gebou word nie is om ‘n meer informele atmosfeer te skep waar deelnemers lekker oor en weer kan saam kuier. Dit los ook meer spasie vir al die vriende en familie om ook saam te kuier.
Spanne word beperk tot vier lede, alhoewel daar soos hierbo genoem, genoeg ruimte gelaat word vir ander mense om saam te kuier.
Aangesien dit ‘n wildspotjiekoskompetisie is, moet die hoofbestanddeel wildsvleis wees. Ander vleis mag saam met die wildsvleis gebruik word solank dit nie die wildsvleis oorheers nie. Slegs hout of houtskoolvure word toegelaat en al die produkte moet rou wees. Aangesien baie mense verkies om wildsvleis vooraf te marineer, mag dit wel gedoen word. Al die ander geregte moet egter tydens die kompetisie voorberei word. Slegs gietysterpotte mag in die kompetisie gebruik word.
Deelnemers aan die wildspotjiekoskompetisie staan ook nog ‘n kans om getrek te word vir die Ready Steady Bush Cook Out wat ook die oggend saam met Lochner en Jan Adriaan aangebied word. Twee spanlede sal aan die kompetisie deelneem terwyl die ander twee gaan toesien dat die pot nie brand nie.
Inskrywingsforms vir die kompetisie is by Die Kwêvoël kantoor in Tweedelaan Thabazimbi beskikbaar en inskrywingsfooi beloop R50 per span. Dit sluit egter nie toegang tot die feesterrein in nie en alle deelnemers is vir hulle eie toegang verantwoordelik.
Vir meer inligting, kontak gerus vir Pieter Coetzee by Die Kwêvoël kantoor, tel. 7771621.