General

Finansiële hulp dringend nodig na Spoegkobra-byt

Die opwinding van ’n gesin van Thabazimbi oor ’n tydelike werk vir hul dogter in die stad, het Maandag 11 Januarie oorgeslaan in skok toe sy deur ’n slang gebyt is terwyl sy en haar ma omstreeks 3 uur die middag besig was om haar klere uit te sorteer wat sy saam met haar wou neem.

Vroeër die dag het ’n vriendin van Johan en Elna Erasmus geskakel en verneem of hulle dogter, Elné (21), dalk sou belangstel om vir ’n tyd lank by haar te kom werk. Die vriendin bedryf haar eie fiosioterapeutiese praktyk en sy benodig iemand om in die kantoor te help as gevolg van ’n personeeltekort veroorsaak deur die nuwe Covid-19 beperkings. Sy het gehoop dat Elné haar dalk hiermee sou kon help. Dit was redelik dringend en sy moes hierdie week Donderdag reeds daar wees.

Die voorval het gebeur net nadat Elné die kasdeur oopgemaak het om klere uit te haal. Toe sy haar hand tussen die hangers met klere insteek om dit van die stang af te haal het sy skielik ‘n erge pyn aan haar hand gevoel en onmiddellik besef dat sy deur ’n slang gebyt is. Volgens Elna, wat by haar gestaan het, het Elné hard gegil, haar hand uit die kas geruk en al gillend die gang afgestorm na buite.

Elna het ook nie geweifel nie en die kasdeur dadelik toegestamp, die kamerdeur agter haar toegetrek en agter haar dogter aangehardloop. Haar man, Johan, wat buite besig was om aan sy bakkie te werk, het die gille gehoor en alles net so gelos en huis-toe gestorm. By die buitedeur het hy vir Elné gekry en vasgegryp. Hy het onmiddellik sy mond op die wond gesit en begin om die gif uit te suig.

2021_Spoegkobra_Elne hos
Elné in Mediclinic Hospitaal nadat sy Maandag deur ’n Mozambiek spoegkobra gepik is. Alhoewel die swelling in haar arm gesak het nadat sy Dinsdagmiddag ’n terugslag gehad het, is sy steeds baie siek. (Foto’s verskaf)

Elna het aan Kwêvoël vertel dat die eerste spoeg wat hy gegee het die ene geel slanggif was. Hy het op haar geskree om gou water te bring om sy mond mee uit te spoel. Die eerste beste water wat sy in die hande kon kry, was die ketel met koue water in die kombuis. Sy het die water sommerso uit die ketel in sy monde gegooi wat hy dan weer uitgespoeg het om nog meer van die gif te probeer uitsuig.

Intussen het Elna ’n ou T-hemp op die stoep gekry wat sy in repe geskeur het en dit styf om Elné se hand gebind het om die bloedvloei te vertraag.

Die Erasmus gesin bly op die plaas Boschfontein naby Zimthabi, sowat 15 km buite Thabazimbi. Johan het onmiddellik vir Elné in die kar gelaai en met haar deurgejaag na dr Andries Buys se spreekkamer in die dorp waarna dr Buys hulle na die Mediclinic Hospitaal in Thabazimbi vergesel het.

Intussen het Elna en haar seun die slang gaan soek om dit te identifiseer. Toe hulle die kas baie versigtig oopmaak was die slang nêrens te sien nie. Hulle het toe besef dat die slang onder lappe onder in die kas moes ingeseil het. Die enigste manier hoe hulle die slang daar kon uitkry, was om kookwater op die lappe te gooi wat dan ook die gewenste uitwerking gehad het.

Die slang was erg omgekrap en het in ’n stadium haar seun gespoeg. Sy bril het gelukkig gekeer dat die gif in sy oë beland. Hulle het die slang doodgemaak en gesien dat die knaap van sowat ’n meter lank, ’n Mozambiekse spoegkobra is. Johan is hiervan in kennis gestel en daar kon toe met behandeling voortgegaan word.

2021_Spoegkobra_bytplek_2
Elné se hand, waar die Mozambiekse spoegkobra haar gebyt het, is steeds erg gekneus en opgeswel.

Elna sê dat die slang haar dogter redelik diep gepik het en alhoewel Elné baie pyn en lighoofdigheid verduur, reken dr. Buys dat hulle betyds met behandeling begin het en dat hy tevrede met haar vordering is. Volgens Elna het hulle elf ampules teengif toegedien.

Elné moes Maandagnag in die intensiewe eenheid deurbring en is Dinsdag na ’n gewone saal oorgeplaas. Haar lyf was steeds seer en volgens haar ma het sy gesê dat haar lyf gevoel het asof sy met ’n gasvlam gebrand is.

Komplikasies het egter Dinsdag laatmiddag ingetree en sy is weer op ’n drip geplaas toe haar arm begin swel en sy gevoel in haar vingers verloor het. Kundiges op die gebied van slangbyte is geraadpleeg en die behandeling is aangepas om die komplikasies teen te werk. Woensdagoggend vroeg het dr Buys haar ouers gekontak en gesê dat Elné goed op die behandeling reageer. Die swelling het gesak en sy het weer gevoel in haar vingers. Sy kan ook weer haar vingers beweeg. Haar toestand is steeds ernstig en sy is baie siek.

Johan het sy besigheid en werk as gevolg van die Covid-19 pandemie verloor toe hy sy deure weens die streng inperking beperkings moes sluit. Die gevolg was dat hulle hul medies verloor het toe hulle nie meer die mediesefondstariewe kon betaal nie. Die hospitaal het R20 000 geëis voordat enige opname gemaak word. Die gesin kon deur die milde bydraes van vriende en inwoners van Thabazimbi Maandagmiddag reeds R10 000 neersit en het Dinsdagoggend nog R10 000 inbetaal. Dit is moontlik gemaak deur die poging van veral drie van Elné se vriendinne, Stef, Simoné en Umarie wat die boodskap uitgestuur het en ook die hulpfonds gestig het.

Elna was baie emosioneel toe sy vertel het hoe ongelooflik dit is om te sien hoe die mense tot nou toe tot hul redding gekom het deur hulle harte oop te maak om vir Elné te help. Sy sal ten minste vir nog ’n paar dae in die hospitaal moet vertoef terwyl sy gemonitor word om te sien hoe sy verder op die behandeling reageer.

Elna wil hierdeur ook die verpleegpersoneel van Mediclinic Hospitaal en in besonder dr. Buys vir hulle toegewydheid bedank om net die beste sorg vir Elné te verskaf.

Die geld wat reeds inbetaal is, gaan nie die volle tyd kan dek nie en Johan en Elna doen ’n beroep op die gemeenskap op hulle harte verder oop te maak om waar moontlik ’n bydrae te maak om te verseker dat Elné die nodige behandeling kan ontvang.

Indien u kan help word u versoek om die geld by FNB takkode 250655 op die rekening van E Erasmus,  rekeningnommer 625 203 71965 in te betaal.