Community

Siekte eis een van Thabazimbi se kranige boorlinge

Riaan Vorster (60), ’n kranige boorling van Thabazimbi wat hom in die regte bekwaam het en op Thabazimbi as sakeman sy plek in besigheid volgestaan het, is Sondag 13 Desember 2020 oorlede nadat hy vanaf Oktober verlede jaar bedlêend was.

Riaan is in Desember 2009 met ’n breingewas gediagnoseer. Die gewas is tydens ’n operasie verwyder en hy het daarna bestraling daarvoor ontvang. Die gewas het egter na vyf jaar weer teruggekeer. Gedurende 2017 het hy gammamesbestraling ontvang wat die gewas laat begin krimp het.

’n Tweede gewas is gedurende 2020 gediagnoseer wat sy toestand baie vinnig agteruit laat gaan het en sy vermoë om te loop en praat erg aangetas het. Vanaf einde Oktober verlede jaar was hy bedlêend.

Riaan is op Donderdag 10 Desember 2020 in Mediclinic in Thabazimbi opgeneem nadat hy slukprobleme begin ervaar het en is Sondag 13 Desember daar oorlede.

Riaan se ouers, Piet en Miempie Vorster het op 1 April 1959 vanaf Potgietersrus na Thabazimbi verhuis waar Piet by YSKOR werk aanvaar het. Gedurende 1983 het hy as Bestuurder Instandhouding uit diens van YSKOR getree en was daarna voltyds by die gesin se besigheid, VMR Grondverskuiwings, betrokke. Intussen het hy en sy eggenote, Miempie, Louis Garage wat op dieselfde perseel as Thaba Spar was, die huidige Junction Winkelsentrum, sedert 1960 tot 1981 bedryf.

Riaan Vorster (60) van Thabazimbi is Sondag 13 Desember 2020 oorlede na ’n jarelange stryd teen kanker.

Riaan is op 25 Februarie 1960 op Thabazimbi gebore. Hy begin sy skoolloopbaan by Laerskool Thabazimbi in 1965 en in 1970 hervat hy dit by Laerskool Meyerton. In 1977 behaal hy sy matriek aan die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton.
Vanaf Januarie 1981 tot Desember 1986 het hy deeltyds by VMR gewerk terwyl hy verder deur Unisa gestudeer het. Gedurende die tydperk 1984 tot 1990 verwerf hy drie grade naamlik B.Juris in 1984, LL.B. in 1987 en sy BA graad met Kriminologie en kommunikasiekunde as hoofvakke in 1990. Laasgenoemde graad het hy uit verveeldheid met sy dienspligjare aangepak om die tyd om te kry. Riaan word in 1988 toegelaat as advokaat.

Gedurende 1989 het hy werk as regsbeampte by die Multilaterale Motorongelukkefonds (vandag bekend as die Padongelukkefonds) aanvaar en vorder hy vinnig tot Eisebestuurder van tref-en-trapongelukke. Hy bedank gedurende 2001 om sy pa by te staan met die uitbreiding van VMR. Hier het hy tot 2017 gewerk toe sy siektetoestand hom genoop het om op te hou met werk as gevolg van ’n gebrek aan konsentrasievermoë en hy bewegingsprobleme ontwikkel het. Gedurende dieselfde jaar, op 15 Januarie 2017, is sy pa, Piet Vorster, oorlede.

Riaan het sy eggenote, Lorraine, in 1988 ontmoet terwyl hy sy diensplig by die Afdeling Personeel van die Suid-Afrikaanse Weermag in Pretoria gedoen het en hulle in verskillende afdelings op dieselfde vloer in die Hallmarkgebou gewerk het. Die twee is gedurende 1990 getroud.

Uit hulle huwelik is twee dogters gebore naamlik Nadia (29), Engelsonderwyseres by Hoërskool Pionier in Vryheid en Carmen (26), aanlyn bemarker vir die internasionale regsfirma Hogan Lovells.

Lorraine is sedert 2009 as Afrikaansonderwyser by Hoërskool Frikkie Meyer betrokke en gemoeid met redenaars en debat.

Lorraine het aan Kwêvoël vertel dat Riaan ’n oop hand vir die gemeenskap gehad het en dat hy gereeld verdienstelike gevalle ondersteun het. Hy sal veral onthou word vir sy spesiale, eiesoortige humorsin en skerp intellek. Riaan was ook besonder lief vir sport en het ’n wye algemene kennis oor feitlik alle sportsoorte gehad.

Die gedenkdiens het Vrydag 18 Desember in die NG Kerk Thabazimbi plaasgevind.

Hy word oorleef deur sy ma Miempie, eggenote Lorraine en twee dogters.