General

Organisasies sonder winsoogmerk mag kospakkies versprei

VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Maatskaplike ontwikkeling, Tammy Breedt, sê dat die VF Plus die aankondiging, na weke van onsekerheid, verwelkom dat organisasies sonder winsoogmerk wel kospakkies mag versprei.

Dit volg op die kategoriese versekering van die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, dat geen organisasies sonder winsoogmerk of gemeenskapsorganisasies verhinder mag word om kospakkies onder behoeftige en honger mense te versprei nie.

Dié versekering van die minister volg op pogings van haar departement en provinsiale departemente vir maatskaplike ontwikkeling die afgelope weke om die verspreiding van kospakkies in die regering te sentraliseer.

Minister Zulu het op ‘n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir maatskaplike ontwikkeling gesê haar departement keer niemand om voedsel te versprei nie en dat haar departement nie in kompetisie is met enigiemand oor die verspreiding van noodvoedsel nie.

Die aantal mense in nood het eksponensieel toegeneem sedert die aankondiging van die ramptoestand en die inperkingstydperk.

Daarom word dit verwelkom dat organisasies soos die Rooi Kruis, Food Forward en Gift of the Gives, wat almal voorleggings aan die komitee gedoen het, nie verhinder sal word om kos te versprei nie.

Die regering moet die verligting van hongersnood fasiliteer en waar moontlik koördineer en dit nie belemmer nie.