General

Kookblok 3: Beperkinge van Lasagne maak op ’n stoofplaat

Net soos aartappels in alle vorme een van my groot gunstelinge was en ek dit maar vir eers vaarwel geroep het om geld te spaar tydens hierdie inperking van Vlak 5-1=4, Vlak 5-2=3, en wat daarop mag volg, en gooi nou die aartappels en hul skille eerder in die Vodka-pot.

Die meeste van my adverteerders mag nie hulle besighede bedryf nie en hulle sal seker eers weer teen Vlak 5-9 = Vlak-5 die moed bymekaarskraap om te adverteer. My inkomste is dus tot op die been gesny. Neem asseblief in ag dat dit nie net Zuma en Angie is wat sukkel met somme nie. Hierdie nuwe Vlakke maak my heel deurmekaar dat ek nie altyd mooi weet op watter Vlak ons nou eintlik is nie. Gedink ons is op Vlak 4 toe is dit altyd Vlak 4 + iets = ongeveer Vlak-5.

Nou-ja, klaar met somme maak, tyd om terug te keer na wat ek eintlik wou sê: Ek is nét so lief vir pasta in alle vorms as wat ek vir kapok-, gebakte– en aartappelskyfies is. Hier moet ek bieg dat ek nie ’n kundige op die gebied van pasta’s is nie, maar dat ek weereens sonder ’n resep, reeds jare op my eie ge-eksperimenteer het met Macaroni-en-Kaas, Spaghetti Bolognaise en dan natuurlik, Lasagne.

Pastaroller – verkrygbaar by Amazon

Daar is blykbare ook nog dié wenner onder die pasta’s naamlikRavioli met sy eie reeks van vulsels wat wissel van Pulled pork (my eie praktiese vulsel), aspersies, spinasie, kaas, gebakte peer, hoender en alle soorte seekos tot selfs sjokolade.
Die hoofrede hoekom ek nog nie hierby uitgekom het nie is eenvoudig: Ek het nog nooit probeer om my eie pasta te maak en ’n uitrol masjientjie aan te skaf nie – ’n noodsaaklikheid om die pasta-minitertjies te maak. “Skande!,” is al wat ek vir myself kan sê.

Leer gerus om jou eie pasta te maak, blykbaar is dit heel eenvoudig, daar is nou selfs ekstra tyd toegestaan met die verlengde-inperking. Sou die pastarollertjies nog onder die ingeperkte verbode items sorteer, gebruik maar ’n koekroller. Jou laaste leë wynbottel werk net so goed en dit is dalk ’n teer en liefdevolle manier, nogal deur jou hande getroos, om finaal van hom afskeid te neem.

Dit help nie om die wynbottel te bêre om eendag vir die kleinkinders te wys en vertel van die nektar wat dit eens gevul het nie. Soos dit nou aangaan sal hulle nie eens weet hoe lyk ’n druiwekorrel nie, wat staan nog ’n hele wingerd en wynplaas.

Die beperking op die uitvoer van ons plaaslike wyne is gelig maar dit help ons niks nie. Ons wyn gaan nou oor vreemde lippe vloei. Wyn wat ons nooit weer hier sal sien of proe nie.

Dalk is hierdie ook die geleentheid om die kuns van pasta-maak te bemeester vir ingeval die fabrieke se ratte te geroes is die dag as dit weer moet begin draai en ons plastiek verpakkings opraak. Probeer dan maar mieliemeel of sorghum om pasta te maak, in Afrika is niks onmoontlik nie, kyk maar net wat hier by ons aan’t gebeure is.

My enigste pre-puberteit-ervaring van pasta was Macaroni-en-Kaas by Laerskool Groenvlei. Alhoewel ons in die hoof se woning op die skoolperseel gebly het, is ons middag- en aand-etes uit die sentrale koshuis-kombuis in opskepskottels in ons huis bedien.

Macaroni-en-kaas was nogal gewild met aandete maar ek kan eerlik nie onthou wanneer ek vir die eerste keer spaghetti onder oë gehad het nie. My ma het maalvleis net vir die maak van frikkadelle gebruik, nooit as gegeurde maalvleis saam met enige vorm van pasta of iets anders nie.

Die 15 jaar wat ek na skool in die voorwêreld gespandeer het, het my met Italiaanse restaurante in aanraking gebring waar die pasta-wêreld in al sy glorie voor my oopgegaan het.

Foto regs: As kind op Groenvlei het ek nie geweet wat ’n restaurant was nie. Ek en my meisie, Madelein Wolfaardt (saam met my op die foto), se uiteet het bestaan uit ’n lepel vol katjiebotter wat tant Engela Erasmus, die matrone, in die kombuis vir ons uit ’n groot vierkantige blik geskep het. Terwyl ons die grondboontjiebotter  van die lepels af gelek het, het ons net Engels met mekaar gepraat. Ek kan nie meer onthou waaroor ons alles gepraat het nie, maar ten minste kon niemand ons afluister nie.

So het ek my eie skepping met die van elke restaurant waar ek pasta geëet het vergelyk. Onthou dit was in die jare voor die coronavirus, die goeie ou jare toe ons nog met ons vriende saam by ’n restaurant kon kuier oor ’n bottel wyn of twee sonder ’n lastige minister van polisie, met sy eie agenda, wat oor jou skouer loer.

Dit was eintlik eers toe ek na die 15 jaar my as enkelouer terug in my ma se huis op Thabazimbi bevind het, dat pasta’s werklik deel van my bestaan geword het.

Voor dit  was dit Bully Beef wat ek op 101 maniere kon voorberei want vars vleis was te duur toe ek my vir die getroude lewe ingelaat het. Gelukkig het ek geen bomskok van die army se restaurante en take-aways, wat ons sommer in die veld geniet het, oorgehou nie.

Lasagne was my gunsteling gereg by restaurante en dit was seker vanselfsprekend dat ek daar sou begin.

My ma was ’n goeie kok maar ongelukkig het middagete gedurende die week op ons plot, Moredou, uit eenvoudige kookkos met vleis, aartappels, rys, opgekookte kool of spinasie, soetpampoen of wortels, groen draderige boontjies (destyds was daar nie sagte boontjies sonder die draadjies wat eers afgetrek moes word voordat dit gekerf is nie) met aartappel en uie en ’n slaai bestaan. Nie noodwendig al hierdie disse nie, maar dieselfde kookkos is van Maandag tot Vrydag bedien. Met my kinders wat meer aan TV etes voor die televisie gewoond was, het dit hulle nie lank geneem om te rebelleer nie.

Hulle was gewoond aan blomkool- en broccoli-boompies wat jy in gevriesde pakke by die supermark koop. Ek het self tydens my skooljare op Moredou my mond nie aan kookvleis gesit nie – my dood gegril vir die bene en senings. Ek kon dus my kinders se probleem verstaan. Na al die jare met my grille hieroor het my ma dit nooit verstaan nie. Tog het sy my as kind nie getreiter soos sy met die kleinkinders gedoen het as die enigste vleis op my bord die sous oor my rys was nie. Gelukkig ontgroei mens meeste grille.

Die een het later net rys geëet en die ander een, skaars 3-4 jaar oud, wou net kaal brood hê, dit is nou ’n sny bruinbrood sonder botter of enigiets anders daarop. Die grootste uitdaging was toe die jongste groter geword het en sy toebroodjies vir skool uit twee snye bruin roosterbrood met net Marmite en geen botter of ander smeermiddel nie, bestaan het. Probeer bietjie so ’n toebroodjie maak dat dit nie uitmekaarval nie.

Saterdae het ek gewoonlik kos gemaak en my ma se standaard Saterdag middagete van pangebakte wors en stywe pap, wat die huishulp die oggend reeds voorberei het, het ek met pasta’s en ander geregte, waaraan die kinders meer gewoond was, vervang.

Lasagne in ‘n kastrol op die gasstoof gemaak met penne, oorskiet roerbraai en roomspinasie, bedien met ‘n koolslaai.

Dit het naderhand gelei tot pasta of varktjops met chips wat ek vir aandete gedurende die week voorberei het in plaas van die standaard oopbroodjies met avokado of roereier wat ek in elk geval moes voorberei. So het die lasagne ’n prominente plek begin inneem wat ek later met ’n soufflé begin afwissel het (hieroor later want ek het nie meer ’n oond nie).

Die groot geheim van ’n lasagne is die dikte, of loperigheid, van die souse wat jy gaan gebruik.
Vir die vulsels kan jy bykans enigiets gebruik solank dit net nie te souserig bly nadat dit uit die oond kom nie. Om dit te verhoed het ek net droë lasagne skywe gebruik en die gereg gebou met afwisselende lae van witsous en souserige vleismengsel met die droë lasagne velle tussenin, gewoonlik afgerond met ’n lekker kaas- of roomspinasie laag heel bo.
Gebruik mozzarella- of cedar-kaas, wat jy ook al verkies. Ek gebruik gewoonlik heelwat Feta-kaas in die roomspinasie.

Indien jy dit in die oond gaan bak is die volgende van toepassing:
Gebruik ’n loperige witsous vir die onderste twee lae en ’n souserige mengsel vir die lae wat vleis bevat, met baie min van die witsous. In die boonste laag kan die sous heelwat dikker gemaak word.

Die droë velle lasagne absorbeer die souserigheid en nadat dit gebak is, kan jy dit opdien met die verskillende lae steeds op hulle plekke en nie in die ander lae ingevloei nie.

Die vulsellaag kan jy afwissel met gegeurde maalvleis met gebraaide uie en sampioene of hoenderstukkies met roomspinasie of, as jy nie vleis eet nie, ’n lekker groentevulsel van jou keuse. Aangesien ek my nie ’n lasagne sonder melk, room en kaas kan indink nie, weet ek nie of dit so lekker met die Vegans sal afgaan nie.

Nadat dit vir ongeveer ’n halfuur teen 150º gebak het laat staan vir ’n  ruk om af te koel en dat die souse goed stol.

Die gerief van lasagne is dat jy jou voorbereiding vooraf kan doen sodat jy net jou witsous moet aanmaak voor jy die lasagne kan begin bou. So kan jy reeds die vorige aand of oggend jou vulsel en die roomspinasie voorberei. ’n Paar glase wyn kan ook bygevoeg word vir ’n gesellige tydjie terwyl jy hiermee besig is.

Netso kan jy die hele pan lasagne vries en vinnig ontvries en bak indien jy onverwags gaste kry. Maak hierby ’n lekker kaassous om oor die lasagne te bedien en almal sal baie beïndruk met jou wees dat jy die dis so vinnig saamgeslaan het sonder om op ’n enkele glasie wyn saam met hulle uit te mis.

Dit is bietjie moeilik om die lasagne velle op die oop plaat te gebruik. Kook dus die pasta (macaroni, skulpies of penne) ook vooraf tot dit gaar is. Meng dit met die met heelwat dikker witsous vir die pasta-lae.

Berei al die verskillende lae klaar indien jy ’n laag groente saam met jou maalvleis of hoendervleis wil voeg om sodoende ’n eendis-maatyd voor te sit.

Gebruik ’n kastrol volgens die hoeveelheid lasagne wat jy wil opdis en spuit dit uit met ’n nie-klewende kooksproei. Een glas wyn behoort genoeg te wees vir die hele proses.

Lasagne as dit klaar gepak is, die gaarmaak konkoksie en die finale produk.

Begin heel onder met ’n dik laag van die pasta en kaassous mengsel, gevolg deur ’n laag van die vulsel. Die dikte kan wissel volgens die aantal lae vulsel, maar maak verkieslik net een laag.
Volg elke vulsel laag op met ’n laag pasta met ’n bietjie kaassous voor die volgende laag tot bo by die finale laag wat uit jou vulsel of roomspinasie kan bestaan.
Hou die laaste witsous oor om hierdie laag te bedek en bedek met ’n dun lagie kaas.
Indien die laaste laag die roomspinasie is hoef dit nie nog kaas bo-op te kry nie, behalwe om die lasagne mooi te laat vertoon.

Gebruik maar weer die dik aluminum plaat met roostertjie, of ’n pan met water waarin jy die kastrol plaas, om die direkte hitte te vermy en, met die deksel op, begin op ’n baie lae temperatuur dat die inhoud geleidelik van onder warm word. Teen die tyd dat die kaas wat jy bo-op gestrooi het gesmelt is, is die dis ook warm genoeg om te bedien.

Jy sal ruik as dit te lank op die stoof was of jy te veel hitte gegee het. Moenie tot dan wag nie, dit het klaar gebrand!
Laat dit eerder maar net stadig in die kastrol bak en gaan kyk maar na so 20 minute of ’n halfuur.

Sodra dit gereed is laat dit maar redelik afkoel om die pasta geleentheid te gee om fermer te raak voor jy opdien.

Die pan met water sal verhoed dat die pasta aanbrand want die temperatuur sal nie hoër as die van kookwater styg nie mits jy sorg dat die pan nie droogkook nie. Sorg maar dat die pan heeltyd water het aangesien dit wegkook.

As jy dit op die stoof gaan vergeet het jy ’n stuk koolstof wat jy uit die kastrol moet krap en ’n pan wat pikswart gebrand is, dieselfde as wat gebeur as jy die koffiewater laat aanbrand.
Glo my  – ek kan vir julle my ketel wys wat eens op ’n tyd geblink het en nou pikswart is van die kere wat ek die water laat brand het.
Ek het altyd gesê dat party mense so min van kook en dinge weet dat hulle selfs die koffiewater sal laat brand – toe gebeur dit met my.

Met die losser formasie van die lasagne en die lae wat dalk so ’n bietjie inmekaar gevloei het, moet jy jou maar verbeel jy is op ‘n E-trip in ’n disco. Hulle sê jy hoor die musiek dan in sulke verskillende lae.
As jy dus die lasagne opgedis het, moenie daarvoor kyk nie en verbeel jou jy sien die verskillende lae soos elke laag gastronomies in jou mond ontplof met elke hap wat jy vat – Geniet dit – dit gaan steeds lekker smaak!
Ignoreer ook maar daai prentjie op die lasagne boksie – dit is net die fotograaf wat weet hoe om te maak dat dit so mooi lyk. In werklikheid gaan jy dit nooit in der ewigheid so regkry nie.

Volgende keer maak ons gewone kos op ’n ongewone, maar lekker kuier-manier. Al is dit net jy en jou hond met so ’n pynappel verfrissing terwyl jy die laaste bietjie sonstrale van die vroeë-wintersmiddag geniet.