Agri SA se betrokkenheid dra by tot hupstoot vir landbou
Die aankondiging Woensdagaand deur die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling dat die hele landbou-waardeketting vrygestel is van enige inperkings, met uitsondering van die verkope van alkohol en tabak wys op die betrokkenheid van instansies in die ministeriële taakspan wat die Minister van Landbou die afgelope tyd geadviseer het.
Agri SA sê in n mediaverklaring dat hierdie betrokkenheid van veral die landbou instansie vrugte vir die landbousektor afgewerp.
Dit beklemtoon die belangrikheid vir boere, provinsiale-en bedryfsorganisasies en ander spelers in die landbou-waardeketting om aktief betrokke by ‘n instelling soos Agri SA te wees en dit as ‘n platform te gebruik om hul kwessies tot op die hoogste regeringsvlak te belig.
Boere kan nou voortgaan met veilings van lewende hawe en ander landbouprodukte soos wol en katoen. Dit bly egter onderworpe aan streng higiëniese voorsorgmaatreëls en ‘n beperking van 50 mense per veiling.
Daarmee saam is kritiese landbou-dienste soos navorsing, inspeksies, sertifisering en kwaliteitsbeheer ook van enige inperkings vrygestel.
Wyn kan nou weer uitgevoer word, so ook verskeie ander landbouprodukte.
Agri SA se span het ook hul netwerke die afgelope tyd ingespan om invoere en uitvoere by die Suid-Afrikaanse hawens aan die gang te kry.
In dié proses het Transnet uit hul pad gegaan om vragskepe toegang tot die hawens te verleen om swaar landboumasjinerie en ook chemikalieë noodsaaklik vir die voorbereiding van graanlanderye in die Wes-Kaap af te laai. Boere in die Wes-Kaap en Graan SA se bekommernis dat die chemikalieë nie betyds sou arriveer nie, is deur hierdie aksie bygelê.
Maatskappye wat landboumasjinerie invoer se groter uitdaging was die onbekombaarheid van permitte om abnormale vragte te kon vervoer. Agri SA het die Direkteur-Generaal van Vervoer gekontak en die kantoor verantwoordelik vir die permitte was as ‘n noodsaaklike diens verklaar. Dit het die maatskappye in staat gestel om ingevoerde landboumasjinerie aan hul kliënte betyds vir die stroopseisoen af te lewer.
Ander goeie nuus vir die sektor is dat die konstruksie van infrastruktuur op plase en deur agribesighede ook goedgekeur is. Die kommersiële landbousektor voorsien nie net kos aan Suid-Afrika, ons buurlande en aan die internasionale wêreld nie, maar dit skep werk aan nagenoeg 850 000 mense en verdien miljarde se buitelandse valuta vir Suid-Afrika.
Agri SA bedank die Minister en DG’s van Landbou vir hul bereidwilligheid om na ons insette te luister en dit tot op die hoogste vlak namens die sektor in regulasies te verwoord wat die sektor tot groot voordeel strek.
Deur samewerking en wedersydse vertroue beskerm ons nie net ons burgers teen die vernietigende impak van die dodelike COVID-19 pandemie nie, maar ons stel ook planne in werking om die ekonomie te beskerm en voedselsekerheid vir almal te waarborg.