Bosveld bring hulde aan boorling en boervrou van formaat
Met die dreigende corona-19 pandemie wat regoor die wêreld sy vernietiging van menselewens voortgesit het, het die Thabazimbi bosveld van een van hulle boorlinge en boervrou van formaat, Linda Snyman (81), afskeid geneem.
Linda is na ’n kort siekbed op 17 Maart oorlede na ’n stryd teen dimensie. Dit het haar en haar man Dawid egter nie afgeskrik om ’n paar jaar gelede op die vliegtuig te klim en vir hul jongste dogter, Dalinda en haar gesin, in Nieu Zeeland te gaan kuier nie.
Linda is in 1938 op Doornfontein in die Koedoeskop distrik gebore waar sy ook grootgeword het. Sy gaan skool op Laerskool Koedoeskop, eers in die ou sink geboutjie en later in die nuwe skool soos dit vandag daaruit sien.
Haar pa het later die plaas Buffelskraal gekoop en die gesin het daarheen verhuis.
Na laerskool begin sy haar hoërskool loopbaan by Ou Hoër op Rustenburg en voltooi haar matriek aan die Rustenburg Handelskool.
Na matriek werk sy vir 18 maande in Barclays Bank op Thabazimbi en trou in 1958 met Dawid Snyman op Thabazimbi. Linda en Dawid was vir 61 jaar en sewe maande getroud.
Hulle boer eers op Elandskuil naby Thabazimbi waar hulle grond huur en vestig hulle gedurende 1965 op die plaas Nooitgedacht te Koedoeskop waar hulle vir baie jare boer.
Linda was ’n voorslagboer en haar kuddes Brahmane en Santa Gertrude’s, wat Dawid gedurende 1974 vanuit die VSA ingevoer het, het sy met groot entoesiasme uitgebou en versorg, terwyl die liefde vir haar kinders en die huishouding steeds die prominente plek ingeneem het.
In 1989 vestig hulle hul te Doornhoek Thabazimbi net buite die dorp terwyl hulle steeds die boerdery op Makoppa bedryf. Haar tuin was haar trots en was dit in groot aanvraag by baie paartjies wat hul troufoto’s daar laat neem het.
Tussendeur het Linda ook hul lodge, Jabulani Lodge, op die plaas by Makoppa bestuur. Die Lodge was net so gewild vir troues en die ideale agtergrond vir troufoto’s.
Die begrafnis was Saterdag 21 Maart 2020 vanuit die AP Kerk Thabazimbi en die ter aarde bestelling in die Thabazimbi Begraafplaas.
Sy word oorleef deur haar man Dawid en haar kinders Dawie, Marinda, Kobus, Erik, Sunette en Dalinda asook 15 kleinkinders en 17 agter-kleinkinders, vir wie sy ’n heldin van formaat was.