Kookblog 2: Dinge wat my ma my nooit vertel het nie
Op skool het my ontbyt uit ’n stewige bord mieliepap bestaan. Dit was slappap wat my pa, wat deur al die seisoene heen elke oggend vyf-uur opgestaan het, gou pap aanmekaargeslaan het voordat hy ons seuns met koffie kom opklop het waar ons in die buitekamer gebly het.
Die koffie was om ons uit die bed te kry, laaste huiswerk te doen, jou boektas reggepak en gereed maak vir skool.
Aangesien my pa ook onderwyser by die hoërskool was, het ek en my ouer broer saam met hom skool toe gery.
Dit was totdat ons besluit het om ons eie fietse aan te skaf en om nie saam met ons onderwyser-pa by die skool aan te kom nie.
Gelukkig het my ouers hiertoe ingestem op die voorwaarde dat ons vir die helfte van die koopprys verantwoordelik sou wees en uit ons spaargeld daarvoor moet betaal.
Op hierdie stadium was die nuwe hoërskool reeds in gebruik geneem. Hamerkopstraat het nog nie bestaan nie en was die hele gedeelte tussen Dertiendelaan en die Marakele-pad doringbome en bos.
Ons moes dus die hele pad vanaf Moredou, die plot se toegangspad was net verby die huidige Obaro, in Warmbadweg afry tot by die dorp se ingang, met Deenastraat wat op daardie stadium die amptelike noordelike toegang tot die dorp was.
Die plot was sowat 4km uit die dorp en die pad verby die skouterrein was destyd nog ’n grondpad. Met ’n dunwielfiets moes jy jou sit ken sit ken met die boeksak tussen jou bene op die raam gebalanseer. Net kommen mense het die boeksak agterop die carrier vasgemaak.
Om terug te keer na die oggend se slappap. Ons het nie ontbyt saam om die tafel geniet nie, want daar was gewoonlik genoeg tyd om vir jouself pap in te skep en dit op jou eie manier op te kikker en te eet. Kitsontbyt was nie so algemeen nie en my ouers het nie daarin geglo dat dit die nie die mieliepap moet vervang nie.
Op die plot so ’n kilometer agter Obaro teen die randjie het my ouers ’n kein boerderytjie met ’n paar melkkoeie, paar skape en my ma met haar hoenders, kalkoene en makoue, bedryf.
Daar was dus lekker dik vars plaasroom wat ek soggens saam met suiker in my pap ingewerk het. Die proses het gewoonlik so vyf tot tien minute geduur en teen die tyd dat alles mooi met die lepel behoorlik ingeklits is, was dit glanserig en taai soos dik stroop wat ek dan bietjies-bietjies opgesmul het. As my pa heuning op een van die inkopietogte na Pretoria in Pretoria-Noord gekoop het, kon ons so af en toe daarvan oor die pap gooi as ’n spesiale vergunning.
Na skool, by die huis opgedaag, het middagete gereed gestaan. Maar saam op die stoof het die pot slappap nou in ’n pot stywe pap verander, soos die huis- en tuinhulpe dit saam met hulle kos geëet het. As mens dieselfde ding elke dag sien pla dit jou nie eintlik nie en so het ek maar net aanvaar slappap soggens, wat stywe pap is as ons weer by die huis kom.
Dit was eers nadat ek uit die huis is en in my eie huis met my gesin gebly het dat ek begin wonder het hoe die slappap deur die oggend styf geword het. Dit is dié dat ek Kook en geniet nader gesleep het en kon geen antwoord op hierdie tergende vraag vind nie. Die proses om pap te maak was so deel van die volk dat niemand daaraan gedink het om instruksies vir die nageslag na te laat nie.
Gedurende my studentejare terwyl ek en my broers ’n woonstel gedeel het, het ons gereeld slappap gemaak, sonder dat dit droë klonte gemaak het, maar nooit stywepap nie. Destyds het woonstelblokke nie voorsiening vir braaifasiliteite gemaak nie.
Dis hoekom ek maar hiermee begin eksperimenteer het, asof mens papmaak ’n eksperiment kan noem.
Eers met die slappap begin en aanhou meel byvoeg totdat dit styf is. Probeer dit na tien minuet roer en jy kry nie eens die lepel ingedruk nie so kompak is dit. Om die pap gaar te kry sonder dat alles aan die bodem vasbrand is ook ’n ander saak.
Naderhand geleer om die meel bietjies-bietjies by die slappap oor lae hitte in te roer totdat dit stywer maar steeds roerbaar is. Los vir so ’n uur, ek glo die mieliemeel moet ordentlik gaar wees, en die pap is styf. Naderhand word dit tweede natuur om die regte hoeveelheid droë meel by te voeg vir die verlangde styfheid.
Dit het lank gevat voordat ek besef het dat twee koppies water vir een koppie meel die basis vir stywe pap vorm en dat jy nog bietjie meel kan inroer indien dit nie styf genoeg is nie. Sodra dit begin kook, bring die hitte baie af en los om gaar te word. Ek gebruik ’n soliede aluminum plaat uit ’n ou elektriese toaster (sien lokfoto heelbo) wat ek bo-oor die oop vlam plaas, met ’n draadrakkie bo-op om die temperatuur nog verder af te bring en verhoed dat die pap vasbrand.
Vir etlike jare moet ek vir myself sorg en gaan so ’n pot pap hopeloos te veel vir een ete wees. Wat gedoen met die res?
Ek het probeer om die pap wat oorbly te vries maar dit wou nie werk nie. Toe maak ek maar pap volgens die gewone resep van 2:1 wat jou so tussen halfmas en styf los, maar tog styf genoeg om met ’n lekker sousie saam met die braaivleis te geniet. Dit wat oorgebly het, het ek maar net so in die pot laat staan.
Dis net hier waar ek myself iets geleer het. Die volgende oggend was die pap wat oorgebly het styf genoeg dat dit met ’n mes in blokkies gesny kan word. Ek het dit dan ook gedoen, die blokkies pap in ’n plastiekhouer geskep en in die yskas gebêre en, siedaar, stywe pap op ’n gereedheidsgrondslag.
Hierdie pap hou ek dan vir omtrent ’n week in die yskas voordat ek ’n nuwe voorraad moet maak. Nou kan ek soggens ’n stukkie van die oorbly braaiwors van die vorige aand (in skywe gesny), saam met die uie en stywe blokkies pap pan-braai, sommer ’n eier of twee in die pan gooi en ’n heerlike volledige ontbyt geniet. Vanaand, as jy gou ’n vleisie op die kole wil gooi het jy nie die beslommernis om eers pap te gaan maak nie.
Indien jy die pap dalk nie styf genoeg gemaak het nie, gebruik dit die volgende oggend vir ’n mini-panpaptert. Hiervoor gebruik jy ’n klein pannetjie of kastrol wat jy eers met ’n kleefvrye kookmiddel spuit.
Skep die pap eerste in om ’n lagie van omtrent 1-2 cm dik te maak. Skep hierop ’n lagie gegeurde maalvleis, nie te souserig nie en daarop roerbraaigroente of sousboontjies met nie te veel sous nie, of enige ander oorskietkos wat jy dalk kan gebruik. Versprei bo-op ’n eier of twee geklits saam met ’n bietjie melk. Bedek dit met gerasperde kaas en tamatieskywe (opsioneel). Sit die deksel op en verhit teen baie lae hitte. Dit is raadsaam om die tamatieskywe eers te braai om van onnodige vog ontslae te raak.
Sodra die eier gestol en die kaas gesmelt is, kan dit bedien word. Laat staan ’n rukkie om af te koel aangesien die pap redelik lank warm bly. Bedien dit saam met ’n vars slaai vir ’n heerlike laat ontbyt sonder moeite.
Volgende keer: Ons bly by die papperige kos en maak lasagne op die gasstoof (of stoofplaat).