Voel jy weer 18, petrol is goedkoop maar jy is gehok
Daar is egter goeie nuus met AA wat ’n massiewe verlaging in die prys van brandstof gedurende die komende maand voorspel wat dalk hierdie gevoel uit jou jeugjare kan laat realiseer sodra die inperking opgehef word.
Die voorspelling kom nadat onstabiele ekonomiese toestande met ’n vernietigende effek die prys van brandstof drasties laat val het.
Na die verlaging in die prys van brandstofpryse gedurende Maart is hierdie steeds goeie nuus met nog laer pryse wat vir ’n tweede maand drasties die prys van sekere brandstof tipes kan verlaag.
Volgens die data wat tot dusver ontleed is voorspel AA dat die volgend prys verminderings van toepassing kan wees:
Petrol R1,89 per liter goedkoper, Diesel R1,17 per liter goedkoper en Lampolie R1,88 per liter goedkoper.
Die oliestryd tussen Rusland en Saudi Arabië is beëindig met ’n ooreenkoms wat sal lei tot die verminderde globale olieproduksie met sowat 10 miljoen minder vate olie per dag in ’n poging om die olieprys te ondersteun. Dit kom te laat om enige drastiese verandering in die situasie mee te bring.
Met die wêreldekonomie wat op die rand van ineenstorting huiwer weens die Covid-19 pandemie reken die AA dat dit baie maande gaan neem om die effek van die lae olieprys te neutraliseer.
Die AA wys daarop dat die mark hoogs veranderlik is en dat die geprojekteerde prysaanpassing baie kan verander.
Die feit bly steeds staan dat as die inperking die einde van April opgehef word sal Suid-Afrikaners met brandstofpryse wat sowat R3 laer is as wat dit was toe inperking begin het, begroet kan word.