Salaris Besnoeiing – ’n Swak Toertjie van Beeldskepping
Die besnoeiing van ministers se salarisse deur president Ramaphosa is onvanpas en slegs oëverblindery om die publiek te beïndruk, aldus Herman Mashaba, voormalige Burgemeester van Johannesburg en suksesvolle sakeman.
Mashaba wys daarop dat reeds voor die inperking was Suid-Afrika seker die land van die meeste ongelykhede in die wêreld. Die helfte van die bevolking leef in armoede terwyl 40% van die land se ekonomies-aktiewe bevolking werkloos is.
Die onlangse afgradering van die land se ekonomie na rommelstatus deur Moody’s en die verwagte negatiewe gradering deur Fitch, dui op verdere ekonomiese lyding. Die Wêreldbank het Suid-Afrika se groeikoers vir 2020 voorspel as tussen -2% en -8%.
Die land het inperking ingegaan met ’n swak ekonomie wat geen verdere skokke meer kan hanteer nie as gevolg van ’n dekade van politieke verwardheid, ontoelaatbare vlakke van korrupsie, ’n verkrummelde kriminele-regstelsel, onvolhoubare bestuur van die land se geldsake en arbeidswetgewing wat dié wat werk het bevoordeel bokant die werkloses.
Een van die stappe wat Mashaba aanbeveel wat eerder geneem moes word is ’n aankondiging van die onmiddellike vermindering van kabinetsposte, wegdoen van adjunkministers en die besnoeiing van ministeriële poste.