2019 Matriekeksamen: HFM tel onder die toppresteerders
Die Matriekuitslae is vanoggend bekend gemaak en weereens is Hoërskool Frikkie Meyer op Thabazimbi een van die Top-presterende skole in Waterberg. Meer hieroor sodra volledige inligting beskikbaar is.
Volgens syfers wat deur die Departement van Basiese Onderwys vanoggend vroeg bekend gemaak is, het 81,3% van die 787 717 kandidate wat vir die 2019 matriekeindeksamen ingeskryf het, hulle Nasionale Senior sertifikate verwerf. Daar is nie verdere rekenskap gegee van 2 900 kandidate wat deel uitmaak van die 790 405 wat blykbaar in 7 416 eksamenlokale eksamens geskryf het nie.
Volgens die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshega, is dit ’n riem onder die hart dat Suid-Afrikaanse ouers, ryk en arm, met die hoë slaagsyfer, ’n verbetering van 3,1% op die 2018 slaagsyfer, toon dat hulle volgehou vertroue in die huidige skoolstelsel het.
Sy het verder daarmee gespog dat 186 058 toelating vir Baccalaureus-grade verkry het terwyl 144 762 toegang tot diploma-kursusse verkry het. ’n Verdere 78 984 ontvang slegs hul nasionale senior sertifikate.
Die Departement van Basiese onderwys het ook daarop gewys dat minder kandidate as verlede jaar vir die Nasionale Senior Sertifikaat eksamens ingeskryf het.
Die Demokratiese Alliansie se skaduminister vir Basiese Onderwys, Nomsa Marchesi, stem nie hiermee saam nie en sê dat die “ware” slaagpersentasie eerder baie laer, nader aan 38,9% is.
Marchesi het daarop gewys dat 1 052 080 leerlinge het in 2017 vir Gr 10 ingeskryf en slegs 409 906 van hierdie leerlinge het uiteindelik hul matriekeksamen afgelê wat die slaagsyfer op 38,9% bring.
As gevolg van die baie leerlinge wat uit die skoolstelsel na Gr 10 verdwyn, is daar honderde duisende leerlinge wat die kans ontneem word om hul matriekeksamen af te lê, of te slaag.
Wes-Kaap het die laagste persentasie van sulke leerlinge gehad met slegs 33,4% en het dus inderwaarheid die hoogste slaagsyfer van 54,8% behaal.
Die werklike slaagpersentasie vir 2018 was 37,6% wat beteken dat 2019 se matrieks slegs ’n verbetering van 1,3% hierop getoon het.
Die meeste leerlinge wat die afgelope tyd hul senior Sertifikaat Eksamens afgelê het, was in 2015. Sedertdien is daar ’n geleidelike afname in leerlinge wat jaarliks hul matriekeksamen aflê. Hierdie feit behoort die meeste kommer by die Departement van Basies Onderwys te wek.
So ver dit privaat skool-leerlinge wat die Onafhanklike Eksamenraad se matriekeksamen afgelê het aan betref, was die uitslag heel anders met 98.82% van leerlinge wat geslaag het.
Hiervan was daar 89.51% leerlinge wat die eksamen afgelê het vir universiteitstoegang, 7,92% het toegang tot diplomastudie ontvange en 1,4% het hul nasionale Senior Sertifikaat geslaag.