General

BLF: Wit regse groepe kry skuld vir wapendiefstal

Die Black First Land First (BLF) het die oorsaak vir die afgelope diefstal van wapens en ammunisie uit die weermag se arsenaal direk voor die deur van die wit regse organisasies gegooi.

Volgens die beweging se adjunkpresident, Zanele Lwana, is die BLF van mening dat die inbraak die resultaat was van die ANC-regering se verdraagsaamheid teenoor die “regse organisasies” wat oorlog teen swart mense voer.

Sy het voortgegaan deur te sê dat daar ’n verband bestaan tussen wapendiefstal en die verskeie regse militante wat ooglopend deur die regering ondersteun word onder die dekmantel van selfverdediging deur hierdie “landdiewe”.

“Dit is skokkend dat die regering wittes toelaat om privaat leërmagte op te bou wat openlik oorlog teen swart mense beplan,” het sy verder gesê.

Die Nasionale Weermag Unie sekretaris, Pikkie Greef, het Vrydag in ’n verklaring gesê dat die gesteelde R4 gewere binne 24 uur gevind is waar dit by ’n huis in Hammanskraal versteek was.

Hy het ook gesê dat die voorval ’n interne aangeleentheid was aangesien niemand van buite toegang tot die wapens, sonder hulp van binne, kan kry nie.

Die Suid-Afrikaanse Weermag woordvoerder, Siphiwe Dlamini, het Saterdag gesê dat daar wel Weermaglede gearresteer is maar dat die wapens nog nie teruggevind is nie.

Hy het verder gesê dat die verdagtes tot 3 Januarie aangehou sal word. Intussen word die hoop uitgespreek dat die wapens wel terug gevind sal word.