SAL kanselleer al sy vlugte vir Vrydag en Saterdag
Die SAL het met die oog op die beplande stakings van die vakbonde NUMSA en die SA Cabin Crew Association (Sacca), al die vlugte, binnelands sowel as buitelands, vir Vrydag 15 November en Saterdag 16 November gekanselleer.
Die stakings is deur die vakbonde uitgeroep omdat hulle ongelukkig is met die beplande herstrukturerings binne die SAL waardeur sowat 1 000 werkers hul werk kan verloor.
Woensdagaand het die SAL ’n media vrystelling gemaak om te bevestig dat alle vlugte vir Vrydag en Saterdag gekanselleer is. Die enigste SAL vlugte wat voortgaan is vlugte wat terugkeer vanaf hulle buitelandse bestemmings. Die kansellasie is effektief tot Sondag.
Die vlugte van lugdienste wat in vennootskap is met SAL, soos SA Express, Mango en SA Airlink word nie deur hierdie kansellasies geraak nie.
Die SAL sê voorts dat die herstrukturering, wat vroeg in 2020 sal plaasvind, gedoen moet word om die lugdiens van finansiële ineenstorting te red. Die staatsbeheerde lugdiens sê dat dit R2 miljard binne die volgende week moet bekom om te verhoed dat die lugdiens in duie stort.
Volgens die SAL se waarnemende Finansiële hoof, Deon Fredericks, gaan die staking ’n katastrofiese impak op die lugdiens hê. Hy het verder genoem dat passasiers wat hierdeur geraak word kompensasie sal ontvang vir vlugte wat gekanselleer is.
Die SAL sê dat enige SAL kontaksentrum, kaartjiekantoor en aangewese reisagente hulp aan SAL kaartjiehouers sal verleen.
Kliënte kan ook die SAL se tuisblad, http://www.flysaa.com vir die nuutste inligting besoek. Kliënte word ook versoek om nie na die vertrek vliegveld te reis tensy hulle in besit is van ’n nuwe bespreking nie.