Motoris doodgeskiet – Metropolisie-beampte in aanhouding
’n Beampte van die Johannesburg Metropolisie is in aanhouding nadat hy na bewering ’n motoris doodgeskiet het na ’n onderonsie.
Die voorval het Donderdagaand 3 Oktober in Cosmos City buite Johannesburg gebeur nadat die beampte, wat van diens af was, met sy dienspistool op ’n ander voertuig losgetrek het.
Volgens die Johannesburgse Metropolisie woordvoerder, Superintendant Wayne Minnaar het die beampte na bewering ’n gevaarlike U-draai met sy wit Golf gemaak en was byna in ’n botsing met ’n blou Nissan Almera betrokke.
Die bestuurder van die Almera het die Golf agterna gesit wat uiteindelik op ’n woordewisseling tussen die persone uitgeloop het. Insittendes van die Almera het die beampte probeer ontwapen waarna daar verskeie skote op die voertuig losgetrek is.
In ’n afsonderlike voorval is twee polisiebeamptes doodgeskiet na ’n gesamentlike optrede deur lede van die SAPD en die Valke in die Dalton, Greytown en Wartburg gebiede in KwaZulu-Natal.
Volgens die polisie se Nasionale woordvoerder, Vishnu Naidoo, het die lede ’n aankomende polisievoertuig gewys om van die pad afgetrek. In stede van stilhou, is daar vanuit die voertuig op die lede losgetrek.
Na die oor-en-weer skietery is die manlike sowel as die vroulike insittende polisie beampte in die voertuig doodgeskiet.
Verdere ondersoek het gelei tot die ontdekking van ’n hoekslyper, jack hamer en inkbevlekte kontant in die voertuig wat daartoe gelei het dat die beamptes betrokke kon wees by ’n inbraak Woensdagaand by die Dalton Poskantoor.