Bom kortwiek byna Suid-Afrikaanse toeriste se terugkeer

Die meeste Suid-Afrikaanse toeriste wat aan boord was van die bus was wat deur ’n bomontploffing in Kaïro, Egipte, beskadig is, het Maandag veilig in Suid-Afrika geland.

Die Departement van Internasionale betrekkings en samewerking het berig dat 25 van die 28 Suid-Afrikaners wat op die bus was steeds Sondagaand terug na Suid-Afrika sou reis. Die bus was met sy vrag passasiers onderweg na die lughawe vir hulle terugvlug na Suid-Afrika.

Die voorval, waarin sewentien persone beseer is, het Sondagoggend naby die Egiptiese Giza Piramides naby Kaïro gebeur toe ’n bom in die straat reg langs die bus naby die Grand Egyptian Museum, wat nog in aanbou is, ontplof het. Verskeie ruite van die bus is gebreek en ’n motorvoertuig wat direk agter die bus gery het, is ook beskadig en die bestuurder beseer.

Die drie Suid-Afrikaners wat agtergebly het sluit twee beseerdes in wat in die hospitaal opgeneem is, asook die eggenote van een van die beseerdes wat haar man wil bystaan terwyl hy in die hospitaal is.

Sondag se ontploffing kom in ’n stadium dat Egipte se toerisme industrie besig is om te herstel na die politieke onrus en geweld in die land voor en nadat die voormalige leier, Hosni Mubarak, in 2011 van sy pos onthef is.