General

Vermeende renosterstroper deur olifant getrap – deur leeus opgevreet

’n Vermeende renosterstroper, wat verlede week volgens sy medestropers deur ’n olifant doodgetrap is terwyl hulle op ’n missie was om renosters in die Kruger Nasionale Park te stroop, is na die voorval deur ’n trop leeus verorber, sodanig  dat net die man se skedel en sy broek oorgebly het.

Veldwagters van die Kruger Nasionale Park het lede van die SAPD Komatipoort en Skukuza bygestaan om die oorskot in die Krokodilbrug seksie van die park te herwin.

Volgens familielede van die gestorwe man het sy medepligtiges die boodskap van sy dood dat die man deur ’n olifant doodgetrap is nadat hulle Dinsdagaand die park betree het om renosters te stroop, aan hulle oorgedra.

Volgens ’n verklaring deur SANParks, het die familie die Skukuza Streeksveldwagter, Don English, gekontak en hy het onderneem om alles in hulle vermoë te doen om die man se oorskot op te spoor en aan hulle te oorhandig sodat die familie afsluiting met sy dood kan vind.

Met inligting verkry van sy vermeende medepligtiges wat die vorige aand deur Komatipoort SAPD in hegtenis geneem is, is die oorskot Donderdagoggend opgespoor waar die leeus die man verorber het.

Volgens die Mpumalanga polisie het hulle inligting ontvang dat mans die park op 1 April binnegegaan het. Hulle is onverwags deur die olifant oorval waartydens een van hulle gedood is. Volgens die medepligtiges het hulle die man se liggaam tot by ’n pad gedra waar hulle gemeen het verbygangers dit die volgende dag sou raaksien.

Nadat die familie die saak by die polisie aangegee het om die oorskot te vind, het die polisie ’n gesamentlike intelligensie gedrewe operasie van stapel gestuur wat dan ook gelei het tot die inhegtenisneming van drie mans waarvan die ouderdomme wissel van 26 tot 35 jaar.

Gedurende die operasie is daar beslag gelê op twee .375 jaggewere asook ammunisie.

Die verdagtes het Vrydag vlugtig in die Komatipoort Landdroshof verskyn op klagtes van die besit van vuurwapens en ammunisie sonder die nodige lisensies, sameswering om wild te steel en betreding.