Community

Kontreinuus

Geloftefees in Leeupoort

Die sesde Geloftefees word op Leeupoort op Saterdag 16 Desember om 09:30 in die saal by die woonwapark, Leeupoort Vakansiedorp gehou.

Ds Fanus Smit, leraar van die AP Kerk van Thabazimbi, gaan die geloftediens lei.

‘n Afstammeling van die Voortrekker-Uyse, Bertus Uys, gaan die geskiedenis rondom die slag van Bloedrivier en die bindende gelofte wat die trekkers aangegaan het, vertel.

Die feeskomitee nooi u almal hartlik uit om die Gelofte te kom betaal.

Navrae kan gerig word aan Stoffel – 082 823 7652 of Pieter – 082 410 1655.

November is Thabazimbi-omgewing se Reënmaand

Die somerreën het gekom en Thabazimbi en omgewing jubel.

In Thabazimbi-dorp is sowat 88mm vir November en Desember, voor die reën wat sedert hierdie week val, aangeteken. (Dankie, aan Dewald vir die inligting).

Sedert Maandagaand tot Dinsdagoggend is 25mm aangeteken en nog ’n paar bome is omgewaai. Dit het na middagete weer hard begin reën en ’n verdere 40mm het geval. Ons sal Woensdagoggend die finale syfer kan deurgee aangesien die wolke steeds swaar-swanger bokant die bosveld hang.

Terwyl Kwêvoël op sy omswerwinge deur die land was, was die bosveld droog en dit was skokkend om te sien hoeveel groot bome in die dorp as gevolg van die droogte gevrek het.

Selfs die groot Skynbasdoring, wat Kwêvoël self voor die kantoor in Tweedelaan sowat 20 jaar gelede geplant het, se bas het reeds afgeval en strek die groot stomp sowat 20 meter die lug in, gereed om om te val.

Blykbaar is daar soveel dooie bome in die dorp dat die parke afdeling, of wie ook al daarvoor verantwoordelik is, nie by die boom by Kwêvoël se gebou kan uitkom nie. Wees dus maar versigtig as die wind waai as jy voor Kwêvoël se gebou verby ry.

Gelukkig staan die Huilboerboonboom, wat dieselfde tyd by Kwêvoël se gebou geplant is, steeds en is Kwêvoël met ’n kombers van pers blomme begroet op sy terugkeer. Slegs maar die tweede keer in al die jare dat die boom in blom was.

Ons nooi almal in die omgewing om reënval verslae na Kwêvoël te pos – ons dateer dit daagliks op.

Stuur asseblief ook al julle Kontrei nuus deur na Kwêvoël  – klubs, verenigings en almal wat dit voorheen gedoen het.

Stuur dit aan kwevoel@kwevoel.co.za – Kwêvoël is steeds daar: Uit die gemeenskap – Vir die Gemeenskap

Besoek ons elke dag by www.kwevoel.co.za en teken in om kennisgewings van opdaterings elke week te ontvang, of kuier by ons by www.facebook.com/kwevoel.

Vir advertensies op Kwêvoël se digitale koerant, vul die vorm op ons webblad in en stuur deur.

Met 5600 vaste intekenaars en weeklikse reikwydtes van tot meer as 10 000 besoeke, is daar niks wat Kwêvoël klop nie.

Dwaalboom groet een van sy groot boere

Die Dwaalboomgemeenskap het Donderdag 23 November van een van sy groot boere en steunpilare afskeid geneem tydens die begrafnis van Christo Greyling (65) wat Woensdag 15 November in die Montana Hospitaal in Pretoria oorlede is.

Die begrafnis is vanuit die Hervormde gemeente Dwaalboom gedoen maar is oorgeskuif na die NG Kerkgebou om voorsiening te maak vir die talle vriende en kennisse wat die laaste eerbetoon wou bied.
Die teraardbestelling was in die Dwaalboom begraafplaas.

Christo het vir 41 jaar saam met die familie in die Dwaalboom omgewing geboer. As kind moes hy in Gr 1 in die Dwaalboom koshuis bly aangesien daar nie fasiliteite was dat hy vanuit die huis kon skoolgaan nie.

In STD 4 (Gr 6) is hy by Laerskool Thabazimbi ingeskryf waar hy sy laerskoolloopbaan voltooi het. Hierna was hy leerling van Hoërskool Frikkie Meyer waar hy ook gematrikuleer het.

Na skool het hy as B.Com. student aan die Universiteit van Potchefstroom ingeskryf maar die drang om te gaan boer was sterker en hy het na die familieplaas in Dwaalboom teruggekeer en ernstig begin boer.
Hier het hy Greyling Boerdery op die plaas Welgewaagd gevestig waar hy hom as suksesvolle boer met droëland boerdery sowel as kommersiële Brahman boer homself onderskei het. Hy was dan ook een van die eerste saaiboere wat oor sy eie stroper beskik het om die oeste van sy lande van 1 100 hektaar self te stroop.

Die klimaat vir droëland boerdery was destyds baie gunstig maar gaandeweg het die effek van die droogte ingeskop, sodanig dat hy en Anita, met wie hy op 19 Desember 1992 getroud is, vir drie jaar lank in Thabazimbi kom woon het.

Christo is weer terug na die boerdery en het gedurende hierdie tyd CCP Handelaars op Dwaalboom saam met sy skoonseun oorgeneem. Die besigheid word steeds deur die kinders, Paul en Eloma bedryf.

Buiten net boer wees het Christo ’n redelike prominente rol in die gemeenskap gespeel oral waar hy hom gevestig het. So was hy bedrywig op die Dwaalboom Boerevereniging, die skool se beheerliggaam asook die kerkraad. Op Thabazimbi was hy in ’n stadium ook voorsitter van die Thabazimbi Laerskool beheerliggaam terwyl Christoné, wat in 1994 gebore is, die enigste kind uit ses in die uitgebreide gesin, wat hy en Anita saam gehad het.

Op Dwaalboom was hy en Anita baie bedrywig by die vestiging van die Dwaalboom Skou wat oorspronklik as die Dwaalboom Oesfees begin het onder aanvoering van die plaaslike VLU tak, die skool en die koöperasie.

Die plaas het uiteindelik sy tol geneem en Christo se kontak deur die jare met die fyn mieliereste-stof en beesmisstof wat in die groot lugweë aangepak het en permanente skade veroorsaak het dat hy naderhand respiratoriese-probleme begin ontwikkel het.

Gedurende November 2014 het hy ernstig siek geword en is die Peglarea Hospitaal in Rustenburg opgeneem. Uit die staanspoor was hy in die intensiewe versorgings eenheid opgeneem. Hier het hy twee keer die “hospitaalkiem” opgetel en het hy ook ’n draai in die isolasie afdeling van die eenheid gemaak.
Na 45 dae in die intensiewe eenheid het sy fisiese toestand merkbaar agteruitgegaan en het Anita besef dat sy bete vir hom tuis kan versorg.

Cgrito oorlede
Christo en Anita voordat hy ernstig siek geword het.

Gedurende Junie vanjaar is hy weer vir ’n paar dae in die Eugene Marais Hospitaal in Pretoria opgeneem maar hy het vinnig herstel en is na ’n paar dae ontslaan.

Sake het gedurende Saterdagnag 11 November vererger toe hy gesukkel het om asem te haal. Hy is in Curamed Hospitaal op Thabazimbi opgeneem en nadat hy gestabiliseer is, is hy Sondagoggend 1 November per ambulans oorgeplaas na Montana Hospitaal in Pretoria, waar hy toe Woensdagaand oorlede is.

Hy word oorleef deur sy vrou Anita en kinders: Berdien en Johan Joubert, Joggie en Linda Greyling, Christiaan en Nola Greyling, Esti en Bertus van der Walt, Eloma en Paul Booyens en Christoné en Brendan Zimmer, asook tien kleinkinders.