Pretvlug eindig noodlottig

 Al wat van die girokopter oorgebly het nadat dit aan die brand geraak het.

Al wat van die girokopter oorgebly het nadat dit aan die brand geraak het.
Dilon du Plessis, eienaar en vlieënier van die girokopter wat Sondag middag op ‘n wildsplaas naby Lephalale neergestort het.
Dilon du Plessis, eienaar en vlieënier van die girokopter wat Sondag middag op ‘n wildsplaas naby Lephalale neergestort het.

LEPHALALE – Wat bedoel was om ’n laatmiddag pretvlug in ’n girokopter te wees, het tragies geëindig toe die tuig by Ashanté Lodge, sowat 25 km buite Lephalale, langs die Thabazimbi-pad, neergestort en die lewens van twee mans geëis het.
Mnre Delon du Plessis (46) van Lephalale en Ernst Steenkamp (50) van Pretoria, beide werksaam by die Medupi projek, is op slag gedood toe die tuig die grond getref het. Die girokopter het op impak in vlamme uitgebars en die omringende veld aan die brand gesteek. Plaaswerkers was gou op die toneel en het die brand met hul eie klere en takke wat hulle van die bome afgebreek het, geblus. Beide oorledenes het brandwonde opgedoen.
Die voorval het Sondagmiddag 13 Maart om 18:00 gebeur toe die tuig se draaivlerk ’n glykabel (foefie-slide), wat oor die dam by Ashanté Lodge gespan is, getref het. ’n Stuk van die skroef is sowat 50m voor die plek waar die tuig bome en grond getref het gevind. Twee vissermanne wat by die damwal gesit het, het bevestig dat hulle gesien het toe die tuig die kabel getref het net voordat dit sowat 50m verder neergestort het.
Volgens ooggetuies, Kwêvoël redakteur inkluis, wat op ‘n lapa onderkant die lodge se eetkamer en reg langs die dam, gesit en vir die kole gewag om reg te kom voordat hulle sou braai, het hulle skielik die dreuning van ’n vliegtuig wat in die kloof afgevlieg kom gehoor. Die volgende oomblik het die girokopter baie vinnig en laag oor die water, omtrent die hoogte van die braailapa, in ’n baie steil draai, om die krans aan die oorkant van die dam te vermy, verbygevlieg gekom.
Die tuig het uit sig verdwyn agter ’n boom langs die lapa, maar ’n duidelike slag was hoorbaar toe die lem die kabel getref het en net daarna was daar ’n harde knars geluid soos dit deur die bome onderkant die dam geploeg het.
Almal het opgespring en na die toneel, sowat 100m vanaf die lapa, gehardloop. Daar aangekom het van die plaaswerkers reeds die vlamme probeer blus. Beide oorledenes was uit die tuig geslinger en het sowat 10 meter, tussen die vlamme, vanaf die brandende wrak gelê.
Die buurtwag is ontbied en was gou op die toneel. Op hulle beurt is die SAPD in kennis gestel wat die verdere reëlings getref het.