Skotvry ná 2 sterf op wildplaas- Pa, seun het wel reg verydel

Dylan en Douw de Beer na die hofuitspraak. Foto: Franco Megannon
Dylan en Douw de Beer na die hofuitspraak. Foto: Franco Megannon

’n Boer en sy seun is Vrydag (10 Oktober) in die hooggeregshof in Pretoria vrygespreek op twee aanklagte van moord ná die dood nege jaar gelede van twee vermeende wilddiewe.
Die voorval het op hul wildplaas Deo Gloria by Boschkop in Noordwes gebeur, het die SAUK gister volgens Sapa berig.Net beentjies van Morris Morua (36) en Zacharia Leso (34) is op Douw de Beer se plaas gevind nadat hulle op 11 April doodgeskiet en verband is. De Beer en sy seun, Dylan (nou 26, destyds 16 of 17), is wel skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg en selfoondiefstal.Morua en Leso se families is volgens die SAUK geskok oor die hofuitspraak.
“ Ek besef nou dat ek eerder die polisie moes geskakel het omrede my seun homself verdedig het. ”
“Ek voel dat dié uitspraak baie onregverdig is . . . hulle het hulle vermoor,” het Morua se pa, Thomas Maragela, gesê.
“Hulle sê hulle het uit selfverdediging opgetree. Hoe weet hulle dit?”
Hy het gesê daar was geen bewys dat wat die twee beskuldigdes beweer het, waar is nie omdat geen lykskouing gehou kon word nie.
Kapt. Nick Pitsoane, die ondersoekbeampte, het in 2011 getuig tien klein beentjies was die enigste menslike oorskot wat op die plaas gevind kon word.
De Beer sr. het in Desember 2011 in die hof erken hy het die twee mans se lyke verbrand nadat hy hulle langs die grensdraad op sy plaas gekry het. Dit was om hul dood en die oorsaak daarvan te verbloem.
De Beer sr. het skuld op die regsverydelingsaanklag beken, maar skuld op die aanklag van moord ontken. Sy seun het al die aanklagte ontken.
De Beer sr. het gesê sy seun het destyds gesê die oorledenes het op hom geskiet en hy het uit noodweer teruggeskiet.
“My seun was in ’n geskokte toestand en het gehuil. Ek het die besluit geneem om my seun, wat toe nog minderjarig was, teen arrestasie te beskerm en het die twee oorledenes verbrand,” het De Beer sr. destyds getuig.
“Ek besef nou dat ek eerder die polisie moes geskakel het omrede my seun homself verdedig het.”
De Beer jr. het in ’n pleitverduideliking gesê hy het met ’n .308-geweer in die veld gestap om ’n rooibok te skiet. Hy het gesê daar is op hom geskiet en hy het teruggeskiet.
Gepubliseer Vrydag 11 Oktober 2013 11:40 nm, by http://www.netwerk24.com/nuus/