Die wat eerder niks sê

Om iets positiefs in die redaksionele kommentaar te sê is deesdae maar ‘n baie moeilike ding om te doen. Die beste is seker maar om soos baie publikasies wat plaaslik en in landelike gebiede versprei word, geen kommentaar te lewer nie, en eerder niks te sê oor enige aangeleentheid nie.
Die ander maklike ding is om sommer iemand anders te kry om dit vir jou te skryf en te plaas asof dit jou eie pennevrug is. Sonder dat jy eens naby die gebeurtenis was.
Ten minste is dit wat jy in Kwêvoël lees, deur ons lesers ingestuur en het ons dit opgevolg en geredigeer, of het iemand inligting deurgegee wat ons opgevolg en self ‘n berig daaroor geskryf het. Of dit is ‘n mediavrystelling wat deur ‘n organisasie soos Afgri aan ons gestuur word met die vertroue dat ons die inligting reg sal oordra. Andersins woon ons self die gebeurtenisse, wat ookal, by en doen beriggewing daaroor.
Dis skandalig, en vermetel, om met ‘n ander man se os te ploeg. Ons jonger mense sal seker nie heeltemal goed verstaan wat hiermee bedoel word nie. In kort: Vroeër jare, voor die tyd van trekkers wat die massiewe ploeë trek, het die boere osse gebruik om klein ploegies te trek om die land te ploeg en voor te berei vir saaityd.
Teen die tyd dat die mielies of koring geoes kan word, kon die boer met trots terugkyk op sy eie handewerk wat hy met sy eie osse en ploeë aangepak het. Die oes was die seën op hierdie insette wat aan die begin gelewer is.
Dit is juis dieselfde beginsels wat by die plaaslike koerant van toepassing is. Die gemeenskap se vertroue word ingewin deur jare van samewerking en die vertroue dat die joernalistieke standard van nuusgewing, deur die koerant, die gemeenskap ondersteun en opbou en nie opbreek nie.
Die jaar staan eiende se kant toe en dit is juis in hierdie tydperk dat ‘n beroep op die gemeenskap gedoen word om verantwoordelik op te tree, ekstra versigtigheid op die paaie toe te pas en hulself voorberei vir ‘n welverdiende ruskans oor die Feestydperk.
Maak nou reeds planne om vriende en familie te besoek of oor te nooi vir ‘n kuiertjie. Hierdie is die een tydperk waar ou bande weer hernu en vriendskappe versterk kan word. Moenie daai planne skielik na ‘n paar biere maak nie. Die gevolge hiervan wil ons nie baie graag oor verslag doen nie.