THABAZIMBI – ‘n Noodvergadering rakende publieke veiligheid is op 12 Maart gehou nadat waterwese die Thabazimbi Rampbestuursdepartement laat weet het dat nog meer water op pad is. Dit reën steeds in Gauteng en die Hartebeespoortdam is meer as 100% vol. Daar is aanvanklik bereken dat die water ten minste 1,2m hoër gaan wees as verlede week. Daar is ‘n SMS deur gemeenskapslede versprei dat die paaie Woensdag om 20:00 gesluit sou word, dit was egter vals inligting aangesien ‘n vloed onvoorspelbaar is en dit onmoontlik is om met sekerheid ‘n tyd te kan bereken.
‘n Opname van beskikbare reddingstoerusting is tydens die vergadering gemaak en inwoners wat oor motorbote beskik word gevra om hul dienste aan te bied indien dit benodig sou word. Kumba het drie lewensreddingsbote beskikbaar en ander toerusting om in hierdie proses te help.
Die myne in die omgewing is op bystand indien iets gebeur. Op hierdie stadium is die laagwaterbrûe reeds in gedrang. By Jabulani is 30 gesinne reeds gehelp met reddingswerk, maar nog meer water kan ‘n verdere probleem inhou. Inwoners word gemaan om weg van alle water te bly, aangesien flitsvloede moontlik kan plaasvind.
Die Koedoeskopbrug gaan heel moontlik eerste onder water wees. Laerskool Koedoeskop is reeds ingelig daaroor en het verlede Vrydag die skool as voorsorgmaatreël gesluit.
Die twee sloepe naby In-die-Bos, asook Pienaarsrivierbrug, gaan heel moontlik eerste onder water wees. Dus word daardie gedeeltes ook gemonitor, sodat daar genoeg tyd kan wees om almal in te lig. Northam verkeer is gevra om Bloubrug se watervlak te monitor en probleme aan die SAPD te rapporteer.
Daar is nog nie sekerheid rakende kraglyne en die waterpyplyn nie. Dit moet egter in gedagte gehou word aangesien die pompstasie op die R510 by Rooidam onder water was voordat Bierspruit afgeloop het.
Die Paaie en Vervoer departement het padborde beskikbaar wat gebruik kan word om die paaie te sluit. Lephalale gebruik tans van die borde, aangesien daardie pad reeds gesluit is.
‘n Skakelbeheersentrum sal so vinnig moontlik ingestel word om met alle kommunikasie te help, sodat die regte inligting die regte mense bereik. Indien nodig gaan Jacaranda FM ingelig word, indien die pad gesluit gaan word.
Van die sluise van die damme wat die Krokodilrivier voed, is reeds Woensdagaand toegemaak en teen 07:00 Donderdagoggend het die rampbystandspan tydelik ontbind, aangesien die moontlikheid van ‘n vloed afgeneem het. Hulle monitor steeds die rivierstelsel en die span sal weer saamgeroep word indien dit noodsaaklik is.
