Thabazimbi Apiesdoring Karnaval
THABAZIMBI – Wanneer laas het jy gehoor van pryse soos R39-00 p/kg vir top gehalte boerewors, beesskenkel teen R29-00 p/kg, beesmaalvleis teen R45 p/kg en bees”rump” teen R65 p/kg? “Dis net een keer ‘n jaar se bederf wanneer die Hervormers op Thabazimbi hulle Apiesdoring karnaval hou”, so beweer die organiseerders. Let wel: dis top kwaliteit gevoerde A-graad vleis – geen wonder besoekers kom van heinde en verre met koelhouers om die dag te geniet nie.
Die biltong is net so gewild. Waar koop jy nog Rooibokbiltong teen R85-00 p/kg? “Ons kan dit doen” skryf die Hervormers, “omdat ons lidmate so lojaal offer een keer ‘n jaar. Ons het geleer dit maak jou nie armer om vir die Here te gee nie.” Daar is honderde kilogramme wilds- en beesbiltong te koop. Teen R100-00 p/kg vir die wildsbiltong en R120-00 p/kg vir die beesbiltong is dit teen die helfte van die prys wat dit in die stede voor verkoop word. Vir diegene wat hulle gesondheid vooropstel sal daar heerlike wildsnitte soos heel potbraai-stukke, heel rooibokboude en lewerwors beskikbaar wees. “Russians” en Tuffy se salamis sal ook in groot hoeveelhede beskikbaar wees.
Nog lekkernye wat altyd gewild is, is die pap en kaiings, lekker skaapafval geregte, pap en wildslewer, roosterkoeke, vars gebakte brood uit die bakoond en Alta se potbrode. Die nagereg tafel en gebak tafel kreun altyd onder die koeke, terte, beskuit en koekies. Nat beskuit sal ook verkoop word as gevolg van die aanvraag.
Die karnaval organiseerders beweer hierdie is sekerlik die mees kindervriendelikste fees in SA. Daar is ‘n spookhuis, ‘n reuse tombola en lekkergoedstalletjie en ‘n lewende hawe stalletjie waar sus vir haar ‘n hasie of ‘n hondjie kan koop. Speletjies en kompetisies is daar talle. Kobus Muller se span sorg vir bakkatel speletjies, stok-gholf en stok-snoeker. Die boomklim kompetisie teen een van die reuse Apiesdoringbome bly een van die groot uitdagings. En boetie kan selfs ‘n paar visse probeer uittrek uit die gronddam en dalk ‘n prys wen. Daar is weer ‘n laser kleiduifskiet kompetisie. Kettieskiet-, boogskiet- en skyfskiet kompetisies met pragtige pryse sal ook vernuftige skuts se korrel toets.
Die kunstenaars wat hierdie jaar optree is Robbie Wessels en Adam Tas. Toegang fooie het ook dieselfde gebly as verlede jaar: Gratis! Moenie hierdie bielie-karnaval van Limpopo misloop nie!
Die Apiesdoring karnaval vind plaas op DV 3 Augustus by die Hervormde kerk net buite die dorp – op die pad na Ellisras of Lephalale. Dis ‘n een-dag-fees van 8vm tot 4nm. Vir navrae skakel die voorsitter Izak Joubert by 083 488 6357 of ds. Hennie van der Linde by 083 507 0335 of besoek die webtuiste by www.apiesdoringkarnaval.co.za
