General

Nog drie renosters afgemaai

Nóg drie van die Soutpansbergstreek se renosters is afgemaai vir hul horings.

Drie renosterkarkasse is Vrydag, 12 April, op die plaas Miss Emily van mnr Wulf Schwerdtfeger ontdek.

Die drie renosters loop al vir die afgelope 13 jaar op Schwerdtfeger, wat met beeste en wild boer in die Bandelierkop-omgewing, se plaas. Hy het op die eerste renoster se karkas afgekom terwyl hy op 12 April besig was om buffels vanuit ‘n helikopter te pyl.

Schwerdtfeger het dadelik ondersoek gaan instel en het onraad vermoed  toe hy opmerk dat die dooie renoster nog albei sy horings gehad het. “Die renoster is doodgeskiet,” het Schwerdtfeger gesê.

Bekommerd het hy dadelik ‘n span bymekaar gemaak om te help soek na sy ander renosters op die plaas. Die donker het egter die soekgeselskap gekniehalter en hulle kon eers weer die daaropvolgende dag verder soek. ‘n Helikopter is ook ingespan om te help soek en nog twee karkasse is gekry. Altwee hierdie renosters se horings was verwyder.

Schwerdtfeger sê daar word vermoed dat die renosters alreeds die vorige Woensdag geskiet is. Die derde renoster, meen hy, het dalk te ver weggehardloop vir die stropers om in te haal en daarom was die horings nog aan die karkas gewees.

Schwerdtfeger beraam sy verlies op sowat R1.2 miljoen. – LiN NUUS/Zoutpansberger