Honderde vuurslaners veg teen vlamme
THABAZIMBI – ‘n Oppervlak van sowat 90 000 ha het sedert Sondag 23 September in die Marakele Nasionale Park en dele van die Welgevonden-bewaringsarea afgebrand.
Die brand is vermoedelik veroorsaak deur ‘n elektriese kabel wat by een van die verskeie tv-, radio- en telekommunikasietorings ontplof het. Werk vir Vuur (WVV) brandspanne is dadelik na die toneel ontplooi.
Me Claire Ntshane, Marakele Park Bestuurder, het op Maandag aan Kwêvoël gesê dat die brand hoofsaaklik in die uiters droë berggedeeltes van Marakele versprei het nadat sterk winde opgesteek het. Monitering van die brand het voortdurend plaasgevind.
Volgens satelietfoto’s kon bepaal word dat die brand in die ooste van Marakele begin het en 20% van die park van 67 000ha verwoes het.
Mnr Willem Crause, streekbestuurder WvV in die Waterberg, het gesê brandslaners het die afgelope paar dae deur die nag probeer om die brand te blus. Vyf WVV-spanne het die brand bestry terwyl hul helikopter ook ingespan is om brandskade verder te beperk.
Na wat berig word, het sowat 200 brandslaners sedert Sondag gepoog om die vuur te blus. Die brandslaners het veldwagters van die Park, brandbestryders van Werk vir Vuur (WVV), die brandweermanne van Kumba-, Amandelbult-, Swartklip-, Northam Platinum- en Chromite Myn, Thabazimbi Munisipaliteit, ‘n spotter vliegtuig en helikopter van WVV asook vrywilligers van die omliggende dele ingesluit.
‘n Kantoor is by die drankwinkel naby die kruispad gevorm waarheen die gemeenskap verversings en koeldranke vir die brandslaners kon bring.
Mnr Chris Wagner, voorsitter van die Waterberg-bergbewaringsforum, het gesê volgens satellietfoto’s is meer as 88 000 ha bosveld teen Woensdag vernietig. Die grootste deel hiervan is in Marakele. Groot dele van die Welgevonden-bewaringsarea is ook in die brand verwoes.
Wagner, wat op die toneel was en satellietfoto’s bestudeer en versprei het, het gesê ’n sterk wind het die brand aangedryf en dit tot in die Welgevonden-bewaringsarea gejaag.
Volgens Renette Lategan van Thabazimbi Brandbeskermingsbeheer was daar teen Donderdag, 27 September, nog ‘n vuur in Marakele (Edms) Bpk, maar sou geblus kon word wanneer dit afbeweeg na die voet van die berg.
Geen sterftes of skade aan infrastruktuur is tydens die brand aangemeld nie.
Die gemeenskap word bedank vir die skenkings wat afgelewer is by die sentrale kantoor en ‘n groot dank word betuig aan die vrywilligers vir hul hulp om die brand te blus.
Deur Estie Taljaard
estie@kwevoel.co.za
Willem Crause (links) Streeksbestuurder van Werk vir Vuur (WVV) saam met Paul en Fred (helikopter vlieënier) by die WVV se helikopter wat gebruik is gedurende die Marakele-brand. Foto: Thabazimbi FPA.