Community

Thabazimbi SAPD beveg misdaad

THABAZIMBI – Thabazimbi SAPD het verlede week in Setaria toegeslaan en ‘n hele paar onwettige sjebeens toegemaak. Hulle yskaste met drank en dagga is gekonfiskeer.

Vrydag en Saterdagaand is ses dronk bestuurders toegesluit. ‘n Klomp boetes is uitgereik vir drink in openbaar, sowel as dobbel in die openbaar en urineer in die openbaar.

Met die aanspreek van hierdie kleiner oortredings, verhoed die SAPD egter ernstiger klagtes soos aanranding, poging tot moord, moord en verkragting.

Thabazimbi SAPD het die week ook verskeie skoolbusse afgetrek om te deursoek. Geen arrestasies/konfiskering is gedoen nie.

Die SAPD wil graag al die boere bedank wat reeds deel is van die GPF struktuur in die landelike gebiede rondom Thabazimbi (Makoppa, Koedoeskop, Kransberg en Spitskop) vir hul bydrae om teen misdaad op te staan en saam met die plaaslike SAPD misdaad te beveg.

‘n Groot hulpmiddel is natuurlik die plaas twee-rigting radiostelsel wat tydens operasies gebruik word.

Die SAPD wil graag die ander boere wat nog nie deel is van die GPF struktuur nie, vra om in te skakel by hierdie vinnig groeiende suksesvolle struktuur en om vir hulself dié radio’s aankoop. Met hierdie radio sisteem vergemaklik jy die kommunikasie en die reaksie na ‘n ernstige klagte op jou plaas of plot. Vir enige navrae ten opsigte van GPF koördineerders, skakel gerus AO Havenga by 0833609698.