Diabetes bewustheidsmaand: toets jou bloed

Op Maandag, 14 November 2011 het die Wêreld Diabetes Dag gevier.

Diabetes is ’n toestand waar die hoeveelheid suiker (glukose) in die bloed te hoog is. Dit is ‘n sogenaamde “leefstylsiekte”, wat beteken dat dit veroorsaak kan word deur die wyse waarop ons leef. Dit is ongeneeslik. Tans ly 6.5 miljoen Suid-Afrikaners aan diabetes en 346 miljoen mense wêreldwyd het diabetes. Tagtig persent van diabete sterf aan hartsiekte en die cholesterolvlak van ongeveer 50% is te hoog.

Diabetes affekteer ook ander dele van die liggaam:

*         Oë – katarakte en retinopatie (gelydelike agteruitgang van die oog) kan lei tot blindheid

*         Niere – niersiekte en -versaking

* Senuwees – neuropatie (gelydelike agteruitgang van die senuwees)

* Voete – ulkusse, infeksies, gangreen, ens

Daar is 3 hoof tipes diabetes

Tipe 1 diabetes –  word veroorsaak wanneer die pankreas ophou om insulien te vervaardig. Dit kom gewoonlik in jonger mense voor (maar kan op enige tydstip verskyn) en word behandel met ’n gesonde dieet en insulieninspuitings

Tipe 2 diabetes – die pankreas vervaardig óf nie genoeg insulien nie, óf die insulien werk nie genoegsaam nie. Ongeveer 85 tot 90% van mense met diabetes is tipe 2, en baie mense met hierdie toestand is ongediagnoseer. Dit kom gewoonlik voor in ouer mense (40 jaar plus)  en diegene wat oorgewig en onaktief is (insluitende kinders). Dit word met ’n gesonde dieet behandel, maar sommige lyers gebruik ook tablette of insulieninspuitings.

Swangerskap verwante diabetes – dit is ‘n tydelike toestand wat gedurende swangerskap kan voorkom.  Ma en baba loop egter ‘n verhoogde risiko om in die toekoms diabetes te ontwikkel.

Verminder die risiko

Daar is beduidende bewyse van die Internasionale Diabetes Stigting (IDS) wat toon dat ’n gesonde liggaamsgewig en matige fisieke aktiwiteit die ontwikkeling van tipe 2 diabetes kan voorkom. ’n Daaglikse oefenroetine van 30 minute (bv dans, swem, stap, fietsry) kan die gevaar dat jy tipe 2 diabetes kan ontwikkel met 40% laat afneem. Laat jou bloedglukose dikwels toets.

Kyk uit vir die gevaartekens!

Die simptome van diabetes kan baie lig wees en jy kan selfs onbewus wees dat iets met jou verkeerd is. Jy kan die volgende simptome ervaar (hulle verskil van mens tot mens):

*         Uitermatige dors

*         Hongerder as gewoonlik

* Urineer dikwels

*         Gebrek aan gevoel en geprikkel in die vingers en tone,

*         Uitputting

*         Onverklaarbare gewigsverlies

*         Wasige sig/gesigsversteurings

*         Velinfeksies en wonde wat stadig genees

*   Gebrek aan energie

Gevaartekens

* Diabetes in die familie

* Gebrek aan oefening

* Oorgewig

* Ongesonde dieet

Vir meer inligting kontak jou naaste Medi-Clinic hospitaal of besoek www.mediclinic.co.za