Limpopo Verkeer dreig om bejaarde op te sluit

Thea Franken het hierdie 1970-Mazda bestuur toe sy die afgelope naweek deur provinsiale verkeersbeamptes met die tronk gedreig is omdat sy te vinnig gery het in ‘n 60km/h-sone sowat 20 km buite Thabazimbi.

Hennie Pauw

THABAZIMBI – ‘n Kuier by haar dogter en kleinkinders het vir ‘n 69-jarige dame van Pretoria rampspoedig begin toe sy Saterdagoggend deur provinsiale verkeerspolisie naby Thabazimbi van die pad getrek is en daar gedreig is om haar vir die res van die naweek in die selle te laat deurbring.

Thea Franken het reeds vroeg Saterdag in die pad geval en vreeslik uitgesien na ‘n kuier by haar dogter, Gizela Deysel, van Thabazimbi. Sy het die afstandborde baie fyn dopgehou en was 20km van Thabazimbi op die Brits-pad toe sy deur vier verkeersbeamptes, drie mans en een vrou in kamoefleer-uniforms, beduie is om af te trek.

Die vroulike verkeersbeampte het al die praatwerk gedoen en behoorlik met haar geraas, vertel Franken. Aan haar is gevra waarom sy so vinnig (106km/h) in ‘n 60km/h-sone ry. Die verkeersbeampte het verduidelik dat hulle geen ander opsie het as om haar te arresteer nie en, aangesien dit Saterdag was, sou sy die hele naweek in die tronk moes deurbring.

Die verkeersbeampte, wat ‘n naamplaatjie gedra het, het verduidelik dat die spoedoortreding so ernstig is dat daar nie ‘n opsie van ‘n boete is nie en dat sy sou moes tronk toe gaan. Volgens Provinsiale Verkeerswetgewing is dit heeltemal korrek dat iemand vir hierdie tipe spoed-oortreding gearresteer word.

Franken was baie bekommerd oor wat van die geleende geel 1970-Mazda-motortjie, waarin sy gery het, sou word as sy tronk toe moes gaan en het in trane uitgebars en om genade gesmeek. Sy is gemaan om te praat en nie te huil nie en word toe die opsie aangebied om onmiddellik die maksimum-boete van R1 500 te betaal.

Sy het egter nie soveel kontant by haar gehad nie en die verkeersbeampte neem toe haar beursie by haar en haal al die kontant, altesaam R500, uit en sê dat die klag sal verdwyn. Geen dokumentasie is aan haar uitgereik vir die oortreding of die geld nie.

Volgens Franken was sy maar te dankbaar dat sy nie die naweek in die tronk hoef te slaap nie en dat die geleende motor nie gekonfiskeer is nie. Boonop bly die kwessie van die 60km/h-sone vir haar ‘n raaisel, aangesien sy nooit ‘n 60km/h-spoedteken waargeneem het nie en die motor nie baie vinnig kan ry nie, gegewe dié se ouderdom.

Hoewel niemand 100% seker is nie, meen nie inwoners van die area of plaaslike verkeerspolisie dat ‘n 60km/h-spoedsone hier van toepassing is nie.

Hierdie ondervinding is een in ‘n reeks van teëspoed wat Franken die afgelope jaar getref het. Sy het reeds deurgeloop onder ‘n gewapende rower, ‘n kardief en twee swendelaars wat motors onder valse voorwendsels aan haar wou “verkoop” en toe geld, wat sy van die versekering ontvang het en ook by die bank geleen het, in hulle eie sakke gesteek het.

Volgens die Limpopo se Verkeerspolisie se woordvoerder, Thesan Moodley, is daar ‘n sero-toleransie vir korrupsie in dié departement en kan die Anti Fraud Unit op 015 295 1000 geskakel word. Hulle hande is egter afgekap omdat geen formele klag deur Franken gelê is nie. Franken het die versekering gegee dat sy die saak sal opvolg sodra sy terug is in Pretoria, maar voorlopig wou sy die mense van Thabazimbi waarsku.

Volgens Limpopo Verkeerspolisie het motorbestuurders die reg om identifikasie van beamptes te sien en kan die verkeersvoertuig se registrasienommer afgeneem word. Boetes kan wel op die plek betaal word, maar dit moet met die nodige dokumentasie gepaard gaan.