Vermaak-graf eerste in Rooiberg-Begraafplaas

Mnr Gert Vermaak van Modimolle, voorheen van Rooiberg is op 6 Julie vanjaar op 80 jarige ouderdom oorlede. Sy wens was om op Rooiberg begrawe te word en dit is vervul.

ROOIBERG – Mnr Gert Vermaak van Modimolle wie se wens dit was om op Rooiberg in Limpopo begrawe te word, is die eerste wat in die nuwe begraafplaas te ruste gelê is op 6 Julie.

Die Vermaak gesin, voorheen van Rooiberg waar Vermaak etlike jare daar op die myn gewerk het, het in 1994 ná sy aftrede na Modimolle verhuis. Hy en sy vrou, Amelia (72), was sedertdien deel van dié Bosveldse gemeenskap. Vermaak het op 13 Februarie sy tagtigste verjaardag gevier.

Vermaak is op 30 Junie na ‘n skielike hartaanval dood. Volgens sy Familie was dit al die jare sy wens om eendag op Rooiberg te ruste gelê te word en daaroor is die familie besonder dankbaar vir elkeen se hulp om sy wens te bewaarheid.

Gert en Amelia het mekaar in Nigel tydens ‘n volkspelebyeenkoms ontmoet. Na wat verneem word, het sy tydens ‘n ongeluk op Vermaak se skoot te lande gekom en vandaar het die liefde geblom.

Hulle het in die sewentigerjare na Limpopo verhuis. Die egpaar se kinders het op Rooiberg en Bela-Bela skoolgegaan en hy was vir vyftig ‘gelukkige jare’ met sy Amelia getroud.

Vermaak word oorleef deur sy vrou, drie seuns, Kobus, Jacques en Carl, onderskeidelik van Modimolle, Port Shepstone en Mookgopong, sowel as twee dogters, Gerda van Tonder van Boksburg en Amelia Erasmus van Northam Platinum-myn. Gert Vermaak het tien kleinkinders met vermelding van Adelé Vermaak wat een van die tien is wat die O/19 1500m SA Kampioen is. Amelia beskryf haar man as ‘n stil, sterk en hoflike mens, en wil net die volgende mense van Rooiberg bedank, die Munisipaliteit, Dina de Koker, Danial vir die voorbereiding van die graf, mnr Koos Engelbrecht wat hul vriendelik gegroet het by die graf en vir die mense van Rooiberg vir hulle ondersteuning deur hierdie moeilike tyd waar hulle haar ondersteun het.