
THABAZIMBI – Frank Opperman met sy eenmanstuk “Rooikaart” het vir groot vermaak by die KunsteGrot gesorg.
Een en almal in die byna stampvol teater het geskater van die lag oor die storie van die prysuitdeling by die plaaslike rugbyklub en die stories oor elke speler wat doer agter die bult gaan haal is.
Daar was tog ‘n mate van nostalgie toe hy vir homself as President van die klub, ‘n rooikaart gee. Die KunsteGrot word geluk gewens met die puik standaard van vertonings wat hulle aanbied. Inwoners van Thabazimbi en omgewing kan gerus ‘n aantekening maak van hierdie vertonings waar die kunstenaars na ons hier plaaslik gebring word, en niemand nodig het om honderde kilometers te ry en boonop slaapplek te soek om hulle in aksie te sien nie.
Na afloop van die opvoering het die mense nog saam met Frank by Dewside Restaurant gekuier waar lekker warm sop en broodjies teen die winter se koue, wat so skielik gekom het, bedien is.
Teatergangers word daaraan herinner dat Dewside Restaurant sy deure spesiaal later oophou vir diegene wat na afloop van die vertoning ietsie wil gaan nuttig of net ‘n drankie wil geniet.

