Polisie te vinnig om te arresteer, sê veearts

Dr André Uys Maandag buite die Landdroshof op Louis Trichardt, nadat die Staat hulle saak teen hom terug getrek het. (Foto: LiN Nuus / Zoutpansberger)

Die saak teen ‘n veearts wat daarvan beskuldig is dat hy renosters sonder die nodige permitte onthoring het, is Maandag deur die Staat teruggetrek nadat dit intussen aan die lig gekom het dat hy wel oor die nodige permitte beskik het.

‘n Merkbaar-verligte dr André Charles Uys (38), ‘n wildveearts van Thabazimbi, het Maandag vlugtig in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn, waar sy saak teruggetrek is. Uys is in Januarie vanjaar deur die polisie se spesiale eenheid teen georganiseerde misdaadeenheid, die Valke, by die hof gearresteer. Volgens Uys en sy regsverteenwoordiger, adv Albrecht Pieterse, is Uys deur die ondersoekbeampte in die saak versoek om by die hof op Musina aan te meld of hy word summier gearresteer.

“Niemand het my voor die tyd kom vra wat my kant van die saak is nie,” het Uys Maandag buite die hof aan die Zoutpansberger gesê.

Die polisie het destyds bevestig dat Uys gearresteer is, nadat hy in Oktober 2009 renosters, van die Maremani Natuurreservaat, se horings afgehaal het sonder die nodige permitte. Volgens Uys is hy deur Fourie gehuur om die renosters se horings te verwyder. Dit is glo gedoen om die renosters op die plaas te beskerm teen stropers.

“Ek het die renosters gepyl en weer na die tyd gedokter toe die horings klaar afgehaal is. Wat hulle met die horings gemaak het, weet ek nie,” het Uys gesê.

Uys het ook sy ontevredenheid uitgespreek oor die wyse waarop die polisie te werk gegaan het om sy saak te ondersoek, gesien in die lig daarvan dat hy wel in besit was van ‘n wettige permit om die renosters te pyl. Die permit, sê Uys, is in Februarie 2009 aan hom uitgereik. Verder, vertel Uys, moes hy vanweë die publisiteit wat sy arrestasie geniet het, sy praktyk op Thabazimbi prysgee.

Intussen is die saak teen twee sakemanne van Louis Trichardt, mnre Yahya Shoek Jiwa (44) en Mohammed Irfan Gulam Rasool Malek (41), wat glo renosterhorings probeer koop het van ‘n polisie-agent, weer uitgestel. Albei het op 13 Junie weer in die Streekhof op Louis Trichardt verskyn.

Jiwa is ook deur die Valke gearresteer, nadat hy glo geld aan ‘n polisie-agent oorbetaal het in ruil vir renosterhorings. Malek is in hegtenis geneem vir verdere ondervraging toe hy op die toneel opgedaag het om Jiwa by te staan. Jiwa en Malek is onderskeidelik op R80 000 en R5 000 borg vrygelaat.

Albei sal weer op 4 Julie in die hof verskyn, wanneer hulle na verwagtinge gevra sal word om te pleit. (LiN Nuus / Zoutpansberger)