Ons lesers skryf – Rommelstrooiing raak ‘n euwel

Thabazimbi word omring deur die natuur met sy pragtige berge en boomryke areas. Dit is elke inwoner se plig, nee eerder se voorreg, om hierin te deel en die omgewing te help beskerm.

Dit is verontrustend dat daar sommige inwoners van ons mooi dorp is wat geen erg hieraan het nie. Dit is kommerwekkend dat bestaande fasiliteite geïgnoreer word en die wet in eie hande geneem word.

Hier word spesifiek verwys na die rommelstrooiing wat ongedissiplineerd plaasvind. Vragte vol rommel word op enige denkbare plek afgelaai. Die vriendelike, dog ernstige beroep word gedoen dat alle inwoners sal meehelp dat die ideaal bereik kan word om ‘n netjiese omgewing te beleef.

Inwoners word versoek om met die betaling van water- en elektrisiteitsrekenings ‘n bewys aan te vra vir die wettige storting van rommel by die geoormerkte plekke van die stadsraad. Die geldigheid van die plakker duur een maand. Persone wat oor ligte afleweringsvoertuie (bakkies) beskik, asook motors/bakkies met sleepwaentjies kwalifiseer hiervoor.

Diegene wat oor die gerief van vragmotors beskik, word versoek om inligting by die kantoor van water en elektrisiteit te verkry ten einde die nodige permitte vir rommelstorting te bekom.

Kom  ons beywer ons om samewerking in hierdie verband te verleen. Op hierdie wyse dra ons positief by om dit ‘n pragdorp te maak waarin ons graag wil woon.

Franco Loots
DA-raadslid
Gemeenskapsdienste