THABAZIMBI – Die Suid-Afrikaanse munisipale verkiesings van 2011 sal op Woensdag 18 Mei 2011 in alle distrikte en plaaslike munisipaliteite in al nege van Suid-Afrika se provinsies plaasvind.
Die 2011-verkiesings sal die lede van die distrik, metropolitaanse en plaaslike munisipale rade verkies, wat op hul beurt die burgemeesters van die munisipaliteite sal verkies. Daar word elke vyf jaar verkiesing gehou.
’n Stemming kan net plaasvind by die stemburo van die wyk waar ’n persoon as kieser geregistreer is, en hy toegelaat sou wees om op 18 Mei te stem.
Diegene wat vir ’n spesiale stem gekwalifiseer het, wat nie op 18 Mei kan stem nie, en self na ’n stemburo kan gaan, sal toegelaat word om op 16 Mei vanaf agtuur die oggend tot vyfuur die middag te stem.
Iemand wat weens ongesteldheid kwalifiseer om ’n spesiale stem uit te bring, sal op 16 en 17 Mei deur verkiesingspersoneel besoek word sodat hulle kan stem. ’n Tuisbesoek om te stem sal net gedoen word indien ’n persoon woonagtig is in die stemdistrik waar hy of sy as kieser geregistreer is. Mense in hospitale en ouetehuise kon ook aansoek doen om ’n spesiale stem. Die ouetehuis of hospitaal moet in die munisipale gebied wees waar ’n persoon geregistreer is.
Kiesers sal nie toegelaat word om op 16 Mei aansoek vir ’n spesiale stem te doen nie. ’n Aansoek om ’n spesiale stem moes ten laatste op 3 Mei gedoen word.
Alle stemburo’s sal op 18 Mei vanaf sewe uur die oggend tot sewe uur die aand oop wees. Volgens mnr Dikeme “Oupa” Pilane van die Thabazimbi Verkiesingskantoor, is al die beamptes gereed vir die massiewe taak wat voorlê. ‘n Totaal van sewe politieke partye sal mekaar die stryd aansê, naamlik DA, ANC, VF+, MDP, UDM, COPE en APC. Saam met hulle is daar ook 13 Onafhanklike Kandidate wat vir 11 Wyke wedywer. Wyk 3 en Wyk 7 word ook deur twee Onafhanklike Kandidate gewedywer.
Kiesers moet hul ID dokument of geldige Tydelike ID Sertifikaat aan die beamptes toon om te kan stem.
Die gemeenskap word daarvan in kennis gestel dat Regorogile 1 Gemeenskapsaal en Zwartkop Chromite Skool as stemburo’s verklaar is. Dit behels dat kiesers op hul vanne uitgeroep sal word om deurganse vloei van die kiesers te bewerkstellig. Aanwysingsborde sal buite geplaas word om die kiesers na hul regte substasies te verwys.
In totaal verwag die Munisipale Verkiesings Kantoor dat 38 000 geregistreerde kiesers hul stem gaan uitbring.
Vir meer inligting, kontak Dikeme “Oupa” Pilane by die plaaslike Onafhanklike Verkiesings Kommissie by 014 772 3182 of 072 359 8754.
