Bosvelders vaar goed by VLU-Noordkongres

MODIMOLLE – Bosvelders het uitstekend gevaar tydens die VLU Noord kongres wat verlede week by Weesgerus by Modimolle gehou is. Die tema van die kongres was vanjaar “Maak ‘n verskil” en dit was beslis ‘n kongres met ‘n verskil.
Coreen Combrink van Strewe-tak was derde met haar pewter kissie, Ria van Zyl, ook van Strewe was derde met haar waterverf skildery, Mari Meintjies en Hannatjie du Plessis van Northam-tak was onderskeidelik eerste en derde met hul gehekelde seintuur. Mari is ook aangewys as VLU Noord se skakelbeampte van die Jaar.
Bosveldstreek was tweede in die kompetisies. Marieta Eckard, van Ellisras-tak, is aangewys as die VLU Noord Lid van die jaar.
Daar is eerstens ‘n verskil gemaak in die geveg teen kanker. Dr Carl Albrecht, navorser van die kanker vereniging van Suid-Afrika (KANSA), het gesels oor hoe kanker voorkom kan word. ‘n Groot hoeveelheid kankersterftes kan weliswaar verhoed word. Hy het op verskeie produkte gewys wat gevaarlik is, maar veral gekonsentreer op die groot hoeveelheid ongetoetste chemikaliee wat oral in huishoudings voorkom. Veral skadelike chemikalië in plastiek kan kanker veroorsaak. Daar is probleme met goedkoop bababottels. Tot soveel as 40% van die gewig van kleefplastiek is chemikalië. “Hoe meer die kleefplastiek kleef, hoe meer chemikalië is teenwoordig”, waarsku Albrecht. Geen kos of drank, wat babamelk insluit, moet in plastiekhouers verhit word nie. Nadere besonderhede is beskikbaar op KANSA se webwerf adres, www.kansa.org.za.
‘n Tjek van R 1 000 is aan KANSA oorhandig en elke lid het ‘n milde bydrae gelewer.
‘n Aaneenlopende projek van VLU Noord, naamlik “Plant ‘n boom” het sy wortels behoorlik in die grond geslaan en vrugte afgewerp. Mnr Naas Grove, president van die Suid-Afrikaanse Dendrologiese vereniging, ‘n man wat met bome dans, het lede geprys vir die 713 bome wat tot op datum in die provinsie aangeplant is. Hy het mense herinner hoe onbeduidend klein die mens werklik in die heelal is en watter kort periode ons maar die aarde bewandel. Ten spyte hiervan het ons onberekenbare skade aangerig. 400 spesies word per dag vernietig. “Mense moet dink wat hulle doen. Jy kan moontlik die laaste plantjie van ‘n spesie uithaal om in jou tuin te plant, waar hy waarskynlik nie aard nie. Mense moet kyk waar hulle trap. Jy kan ‘n hele spesie uitwis en nie eens weet nie. Mense moet bewus word van hul koolstofspoor en almal saam bome plant!”
VLU Noord het betrokke geraak by twee uitreik-projekte, nl. Makhozikazi (My naam is vrou), wat landelike vroue oplei, en Karos en Kambro, ‘n projek wat na die jeug uitreik. Kleurvolle drasakke, lede se bydrae tot VLU Noord se 2012 projek is aan hulle geskenk vir fondsinsameling. Van die kleurvolle sakke sal ook in die provinsie onder veral bejaardes uitgedeel word.
Die Welwillendheidsfonds het vanjaar gegaan aan die Steenbokpan Sentrum van hoop, ‘n sentrum vir drank- en dwelmverslaafdes van Steenbokpan.
Nadat lede so hard gewerk het om aan ander ‘n verskil te maak, het die klein botteltjie met die groot gif, Liz Meiring, ‘n onuitwisbare indruk op kongresgangers gelaat. Liz is vanjaar die kunstenaar van die Jaar en het ‘n sprankelende vertoning, spesiaal vir die VLU kom lewer. “Op skool het my huishoudkunde juffrou gesê ek sal nooit goed genoeg wees vir die VLU nie. Wys jou nou net!” Haar vertoning, sowel as die res van die kongres, is moontlik gemaak deur vrygewige borge, NTK en Westfalia. Allan Snyman van Westfalia het kongresgangers kom inlig oor die wondervrug, avokado en al sy gebruike.
Lede ses spogwerk is ten toon gestel en die beste items vanuit VLU Noord se drie streke het gekompeteer. Soetdoring streek het as wenner uit die stryd getree!
Elana Greyling