Triomf vir oud Frikkie

Evan Jacobs, oud leerling van Hoërskool Frikkie Meyer en tans gr 10 leerling verbonde aan Hoërskool Tom Naudé, is op 6 Februarie as lid van die Springbok Junior (o/16) wêreldbekerspan (Aksiekrieket) aangewys. Hierdie is die jongste span ooit wat Suid-Afrika op ‘n Wêreld Aksiekrieket kampioenskap in groen en goud gaan verdedig.

Evan het verlede jaar op die ouderdom van 14 aksiekrieket begin speel. Slegs 12 spelers is aangewys om deel van hierdie span te wees. Vier reserwes is ook aangewys wat ingeroep sal word indien hulle vir enige wedstryd benodig gaan word.

Die wêreldbekertoernooi word gedurende Oktober 2012 aangebied. Dit word voorafgegaan deur ‘n toer na Nieu Seeland gedurende Junie-Julie vanjaar waartydens vyf toetse gespeel sal word. ‘n Verdere toer na Australië word ook beplan.

Al vyf die toetswedstryde in Nieu Seeland sowel as die wêreldbekerwedstryde sal op Super Sport uitgesaai word. Die tye sal op ‘n latere datum in die media bekend gemaak word.