ATKV-tak slaan giftige bofhou

Dié drie vriendelike ATKV-dames het die inskrywings hanteer. Vlnr: Rina Stander, Rita Volschenk en Rhonda Muller.

THABAZIMBI – Die woelige ATKV-tak van Thabazimbi het die jaar se eerste hoogs suksesvolle gholfborgdag verlede Saterdag, 5 Februarie, aangebied.

Die dag is deur 52 spelers ondersteun en daar is van die geykte formaat afgewyk. Eerstens kon spelers by die tyd wat hulle verkies ingeskryf het, wat die kopseer van ‘n trekking op die laaste nippertjie uitgeskakel het. Daar is ook in drie afdelings gespeel wat meer spelers die kans gegee het om van die pryse te wen. Dan is daar net drie pryse in elke afdeling aan die drie beste tellings toegeken terwyl die res van die pryse getrek is wat ook meer spelers die geleentheid gegee het om ‘n prys te wen. Net jammer dat soveel van die spelers wat toe pryse gewen het nie teenwoordig was nie.

Die wenners was as volg: Afdeling A:  Kobus Robbertse (39), J Molatsedi (38) en Billy Pring (36). Afdeling B: D Mugauri (40), Bernie Gous (36) en Hans Human (33). Afdeling C: S Thlabadira (36), N du Plessis (34) en M Muller (33).

Die bestuur van die ATKV wil al die spelers bedank wat die dag ondersteun het. Baie dankie aan al die borge wat die dag so ruimhartig ondersteun het en by sommige putjies vir lafenis gesorg het. Die grootste dank gaan aan die ATKV-lede wat die heel dag gehelp het met die inskrywings, koffie en toebroodjies die oggend en die worsbroodjies halfweg. Rona van die Plaaskombuis het gesorg vir die aand se heerlike aansit ete. Dankie ook aan die Gholfklub vir die voorreg om die dag op so ’n mooi baan te kon aanbied. Met soveel gewillige helpers was dit dan ook moontlik om die prysuitdeling binne 15 minute na die laaste kaarte ingehandig is te kon doen.

Saterdag 12 Februarie se spel is die Derek Torlage Slagspel en Sondag 13 Februarie speel Thabazimbi se Eerste liga span hier op Thabazimbi se gholfbaan teen die span van Wingate, van Pretoria.

Vollie Volschenk