Troggies van HFM hou konsert

THABAZIMBI – Die Gr 8’s van HFM het verlede Woensdagaand, 2 Februarie, hul Groentjiekonsert, getiteld “Van klip tot microchip”, in ‘n stampvol skoolsaal aangebied.
Die trogletiete, oftewel troggies soos hulle bekend gestaan het hierdie afgelope paar weke, het van advertensies tot Romeo en Juliet uitgebeeld.
Hannon se skoonheidsprodukte het ook deurgeloop, met een groot verskil: die mooie jonge dame verander sommer in ‘n jong man. ‘n “Saloon dance off” met ‘n “lewendige” rolbos, dansende leerlinge wat hulle danspassies en sangtalente ten toon gestel het en Kommandant Adolf Campbell wat sy troepe bevel gegee het om papiere om te tel, was deel van die pret.
HFM-water het dié wat aan die kort kant is, laat groei terwyl Romeo en Juliet se storielyn aangepas is met ‘n meer romantiese einde. Die Gr12’s het ook ‘n meesterstuk gelewer met hulle bydrae van rugby, die swartskaap en blommetjie.
Die nuwe onderwysers het gewys wat in hulle steek wat musiek betref en het met die liedjie Bohemian Rhapsody van Queen die saal se dak behoorlik gelig met hulle sang en dansery, tot groot vermaak van die stampvol saal.