Vakansiekoekies

Niemand bak koekies net omdat hulle iets soek om te eet nie.

Daarvoor kan mens winkel toe gaan. Koekies, veral die Kersvakansie-koekies, bak mens vir die gevoelentheid. Jy maak eers soveel kinders moontlik bymekaar. Ek sal nie meer as vyf op ‘n slag aanbeveel nie, maar beslis minimum meer as een.

Dink vroeg aan ‘n hoender of ‘n stuk wors wat sommer so vanself in die oond kan gaar word vir aandete. Dan begin jy vroeg terwyl dit nog koeler is. Laat die kinders begin om die bestanddele op die kas uit te pak. Sit die oond aan op 180 grade Celsius. Smeer of spuit die panne. Drink ‘n kalmeerpilletjie as jy van die senuagtige soort is en val weg.

Ma se mielieblomkoekies

1 pak Maizena
4 koppies meel
2 koppies suiker
500 gr margarien
250 gram klapper (sorg dat dit lekker vars is)
4 groot eiers
Sout
8 teelepels bakpoeier
½ teelepel vanilla

Room die margarien, suiker, eiers en vanilla saam. Roer die droë bestanddele by. As die deeg effe styf is, moet nie melk of water byvoeg nie. Roer liewer nog ‘n eier by. Maar die deeg mag maar effe styf wees. Gebruik ‘n koekiedrukker met ‘n vormpie wat nie te veel kleingaatjies het nie. Die klapper steek soms daarin vas.

Druk uit op gesmeerde bakplate en bak vir ongeveer 12 minute. Wanneer die koekies afgekoel het, plak dit twee-twee met versiersuiker op mekaar en bewaar in ‘n lugdigte houer.

Adri Viljoen