General

Kersfees Boodskap:

Ek het die volgende boodskap ontvang van iemand spesiaal, dalk bring dit ‘n boodskap tuis vanjaar.

Matt 9:13  “Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar die sondaars”

Kersfees is ‘n tydperk van besluite – waar gaan ons wees, wat gaan ons eet en wie gaan wat kry?  Jingle Bells en Stille Nag se klanke oor winkelsentrums se klanksisteme in jou ore dui die frustrasie van nog ‘n jaar se Kersfeesverkope aan.  Jy en mamma het al ‘n geveg voor die eerste geskenk gekoop is.  Indien dit die geval is, lees die volgende verhaal en gee dit vir iemand voor dit te laat is:

Waarheen is jou skip van drome oppad?

Sy het bekend gestaan as die skip van drome.  Sy was agt honderd en negentig voet lank. Veertien duisend mense het aan haar gebou. Die anker het vyftien en ‘n half ton geweeg en is deur twintig perde van die fabriek af tot by die skip getrek.  Die binnekant van hierdie skip het tien maande geneem om te voltooi, altesaam ‘n paar miljoen ure se werk aan Louis Quinze. Klassieke Versailles en Victoriaanse versierings, Crown Berger skilderye, Franse kaffees en Turkse baddens om maar net ‘n paar te noem.

Sy is ook genoem: Die onsinkbare skip en in ‘n koerant van 1912 word berig dat selfs God haar nie kan sink nie.

Maar op Sondagaand 12 April 1912 sink die Titanic binne twee ure en neem 1500 lewens saam na haar watergraf.

Tydens hierdie twee ure het interessante verhale afgespeel. Daar was te min reddingsbote. Die rykes en vernames het gesorg dat hulle eerste plek kry. Later het die Kaptein oor sy megafoon afgekondig dat net vrouens met babatjies plek op die reddingsbote mag kry. ‘n Man met ‘n babatjie in sy arms het verby ‘n vrou gehardloop wat nie ‘n kind gehad het nie. Vir haar was die afkondiging ‘n doodsvonnis.  Skielik het haar situasie verander toe die man sy kind in haar arms sit en sê: Dit is joune… hardloop vir jou plek op die reddingsboot!

Wat is jou grootste Kersgeskenk?

Ons is almal daarvan bewus dat ons lewensvaart iewers soos die Titanic gaan sink. Ons is ook bewus daarvan dat nie almal in hierdie lewe die reddingsboot van Jesus gaan haal nie.

Met Kersfees kom sit God opnuut weer sy kind in jou arms en sê: Dit is joune… hardloop na my reddingsboot.  Moenie wag tot dit te laat is nie. Wanneer ‘n skip sink, word lug uitgeblaas en water ingesuig. Wag jy tot dit te laat is, word jy saam ingesuig al spring jy. Die meeste mense wat hulle lewe in die Titanic ramp verloor het, het nie verdrink nie maar verkluim. Wie wil in koue water ronddobber as Jesus reeds vir jou ‘n plek op sy onsinkbare reddingsboot voorberei het.

Miskien is daar iemand waaroor jy baie bekommerd is of wonder waar hulle welvaart hulle aan die einde van nog ‘n jaar bring. Miskien sukkel jy ook soos ek om geskenke te koop en wonder wát jy vir daardie een sal koop die jaar. Gee dan bogenoemde Kersfees reddingsverhaal vir daardie persone as ‘n geskenk. Sit Jesus in die arms van mense wat oop oë besig is om te sink. Dit is tog al waaroor Kersfees gaan, dit mag dalk daardie persoon se grootste geskenk wees in sy lewe.

Sonder Jesus is ‘n vyftien ton anker te lig.  My wense vir almal is dat julle reeds plekke het op God se reddingsboot.

Mnr G Grobler
–  Laerskool Koedoeskop Hoof